Gaan na inhoud

Insek

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
(Aangestuur vanaf Insecta)

Insekte
Tydperk: 396–0 m. jaar gelede
'n Mannetjie-vleisvlieg van die genus Sarcophaga
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Subfilum:
Klas:
Insecta

Ordes
  • Archaeognatha
  • Dicondylia
    • Zygentoma
    • Pterygota
Sinonieme
  • Ectognatha
  • Entomida

Insekte (Insecta) is 'n klas van die geleedpotiges (Arthropoda). Meer as 'n miljoen spesies is al beskryf en benoem, wat dit verreweg die grootste klas van alle diere maak: meer as die helfte van alle bekende dierspesies is insekte. Skattings van die werklike totaal loop op tot sowat 5,5 miljoen spesies.[1]

Insekte het, nes ander geleedpotiges, gesegmenteerde liggame en gelede pote (vandaar die naam "geleedpotige") en haal asem deur middel van 'n trageëstelsel. Kenmerkend van insekte is hulle ses pote, en almal het 'n uitwendige skelet of eksoskelet, hoewel dit nie by alle groepe ewe hard is nie.[2] Die liggaam van 'n insek is in drie verdeel: die kop, borsstuk en agterlyf, alhoewel die verdeling nie altyd duidelik is nie. By sommige insekte is die dele saamgesmelt of is van die dele gesplete. Talle insekte het vlerke, behalwe die eerste verteenwoordigers van hierdie klas, die Apterygota en heelparty ander vorms wat dit later verloor het, soos die weeluise.

Insekte ondergaan gedaantewisseling. Hulle ontwikkel uit 'n eier en gaan deur verskillende stadiums voordat hulle volwassenheid bereik; by die groepe met volledige gedaantewisseling is een van daardie stadiums 'n papie. Die diere kan baie verskil in hulle stadiums, soos 'n rusper wat 'n vlinder word. Insekte is Ecdysozoa en soos alle diere wat tot hierdie groep behoort vervel hulle om te kan groei.

Insekte lewe op land en in varswater, alhoewel daar 'n paar soorte is wat ook in seewater woon. Hulle is die enigste ongewerweldes wat kan vlieg. Die vakgebied wat hom met die bestudering van insekte besig hou, heet insektekunde, oftewel entomologie.

Sommige insekte is van groot nut vir die mens en word op groot skaal gekweek, soos bye (vir hul heuning) en sywurms (vir sy). Ander bestuif plante, beheer pesinsekte en dien as voedsel vir ander diere. Daar is ook insekte wat as 'n plaag beskou word, soos dié wat gewasse beskadig of siektes oordra. Insekte speel ook 'n belangrike rol in die biologie: navorsing oor die vrugtevlieg het 'n onskatbare bydrae tot genetika gelewer. Daar is ook insekte wat parasiete is, soos weeluise, luise of vlooie.

Kommunikasie tussen insekte vind plaas deur middel van geurstowwe of liggaamsgedrag. Dit is veral belangrik vir insekte soos bye, termiete en miere, wat sosiaal is. Hulle bou state waar net 'n koningin eiers lê en die dogters die werkers van die nes vorm.

Die volwasse moderne insekte wissel in grootte van 0,139 mm (die mannetjie van die dwergwesp Dicopomorpha echmepterygis) tot 56,7 cm met die pote uitgestrek (die stokinsek Phobaeticus chani, wie se liggaam alleen 35,5 cm meet en daarmee die langste insekliggaam is). Die stokinsek Phryganistria chinensis is met die pote uitgestrek nog langer – 62,4 cm – al is sy liggaam self 'n bietjie korter.[3] Die uitgestorwe Meganeura, wat 300 miljoen jaar gelede gelewe het, was een van die grootste insekte wat ooit bestaan het, met 'n vlerkspan van tot 75 cm.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die woord insek kom van die Latynse insectum, die verlede deelwoord van insecare ("insny"), omdat 'n insek se liggaam lyk asof dit in drie stukke ingesny is. Plinius die Ouere het die Latynse woord as leenvertaling van die Griekse ἔντομον (éntomon) geskep, wat op sy beurt van ἔντομος (éntomos, "in stukke gesny") afgelei is. Dit was Aristoteles se naam vir hierdie groep diere, en van dieselfde stam kom die naam van die vakgebied entomologie.[4]

Die omgangswoord gogga, wat in Afrikaans vir insekte en ander klein ongewerweldes gebruik word, is uit Khoekhoe oorgeneem, waar xo-xon 'n versamelnaam vir kruipende en krioelende diertjies was.[5]

Insekte en ander goggas

[wysig | wysig bron]

In die omgangstaal word byna enige klein geleedpotige wat op land voorkom 'n gogga genoem, maar biologies gesproke is verskeie van hierdie diere nie insekte nie. Duisendpote, honderdpote, pissebedde, spinnekoppe, myte, bosluise en skerpioene het wel 'n gelede uitwendige skelet, maar hulle bouplan verskil van dié van insekte.[2]

Volwasse insekte is die enigste geleedpotiges wat ooit vlerke het – tot twee pare, altyd op die borsstuk. Of hulle nou vlerke het of nie, kan volwasse insekte aan hulle driedelige liggaam (kop, borsstuk en agterlyf) en aan die drie pare pote op die borsstuk uitgeken word. Spinnekoppe het vier pare pote en 'n tweedelige liggaam; duisendpote het twee pare pote per segment en honderdpote een paar per segment; pissebedde, wat eintlik skaaldiere is, het sewe pare pote.[2]

Entomoloë hou die naam "goggas" in die enger sin vir die Hemiptera of halfvlerkiges voor, waaronder sikades en skildgoggas val – die groep wat in Engels as true bugs bekend staan.

Diversiteit en verspreiding

[wysig | wysig bron]

Aantal spesies

[wysig | wysig bron]
Ongeveer die helfte van alle beskryfde eukariote spesies is insekte (die linkerkant van die diagram).

Skattings van die totale aantal insekspesies verskil aansienlik. Die algemeenste skatting is dat daar sowat 5,5 miljoen insekspesies op aarde bestaan, waarvan ongeveer een miljoen reeds beskryf en benoem is.[1] Dié beskryfde spesies maak sowat die helfte uit van alle bekende eukariote, die groep wat diere, plante en swamme insluit.

Vyf ordes bevat elk meer as 100 000 beskryfde spesies: die Hemiptera (halfvlerkiges), Lepidoptera (skoenlappers en motte), Diptera (vlieë en muskiete), Hymenoptera (wespe, bye en miere) en Coleoptera (kewers). Die kewers alleen tel meer beskryfde spesies as enige ander orde van diere.[1]

Verspreiding en habitatte

[wysig | wysig bron]
Insekte kan meteens in reuse hoeveelhede voorkom, soos treksprinkane en periodieke sikades. Hierdie radarbeeld van die Mississippirivier toon aan dat die insekte hulself in enorme getalle versprei het.

Insekte kom op elke vasteland en in byna elke habitat op land voor. Daar is veel meer spesies in die trope, en veral in reënwoude, as in matige klimaatsones. Sommige wêrelddele is baie beter deurnavors as ander: die Britse Eilande is so deeglik opgeteken dat die lys van sowat 22 500 spesies waarskynlik binne 5% van die werklike getal is, terwyl die oorgrote meerderheid insekte van die trope en die Suidelike Halfrond nog nie beskryf is nie.[2]

Tussen 30 000 en 40 000 spesies leef in varswater, maar slegs ongeveer honderd spesies is werklik marien; die seelopers van die genus Halobates leef byvoorbeeld op die oppervlak van die oop see.[6] Aan die ander uiterste floreer skerpioenvlieë van die genus Boreus op sneeu en op groot hoogtes, terwyl treksprinkane, miere, kewers en termiete aangepas is by van die warmste en droogste omgewings op aarde.

Evolusie

[wysig | wysig bron]

Verwantskappe

[wysig | wysig bron]

Insekte vorm 'n klade, dit wil sê 'n natuurlike groep met een gemeenskaplike voorouer, binne die geleedpotiges.[7] Hulle behoort tot die Hexapoda of sespotiges, en hulle naaste verwante is die Diplura, die tweestertjies. Die ander twee groepe sespotiges, die springsterte (Collembola) en die oerinsekte (Protura), staan verder van die insekte af. Ontledings van volledige genome plaas die springsterte en oerinsekte saam as suster van 'n groep wat die tweestertjies en die insekte bevat.[8]

Die tradisionele verdeling van die insekte in vlerklose Apterygota en gevlerkte Pterygota hou nie meer in sy geheel steek nie, want die Apterygota is nie monofileties nie: die springhaarstertjies (Archaeognatha) is suster van al die ander insekte, terwyl die silwervissies (Zygentoma) saam met die gevlerkte insekte in die Dicondylia val.[8]

Fossielgeskiedenis

[wysig | wysig bron]
Die reusagtige naaldekokeragtige insek Meganeura monyi het in die laat Karboon, sowat 300 miljoen jaar gelede, vlerkspanne van tot 75 cm gehad.

Die oudste fossiel wat waarskynlik 'n primitiewe vlerklose insek is, is Leverhulmia uit die Windyfield-chert van Skotland, wat uit die vroeë Devoon dateer.[9] Die oudste bekende vlieënde insekte kom uit die middel-Karboon, sowat 328 tot 324 miljoen jaar gelede, waarna die groep vinnig in 'n groot verskeidenheid vorme uitgestraal het. Bewerings dat gevlerkte insekte reeds in die Siluur of Devoon, sowat 400 miljoen jaar gelede, ontstaan het – 'n ouderdom wat uit skattings met die molekulêre klok volg – stem nie met die fossielrekord ooreen nie.[10]

Vier grootskaalse uitstralings van insekte word onderskei: die kewers vanaf sowat 300 miljoen jaar gelede, die vlieë vanaf sowat 250 miljoen jaar gelede, en die motte en die wespe albei vanaf sowat 150 miljoen jaar gelede. Die Hymenoptera het in die Trias, omtrent 200 miljoen jaar gelede, verskyn, maar het hulle groot verskeidenheid eers in die Kainosoïkum bereik.[7]

Koevolusie met blomplante

[wysig | wysig bron]

Verskeie van die suksesvolste insekgroepe het saam met die blomplante ontwikkel, 'n treffende voorbeeld van koevolusie. Insekte was van die eerste plantvreters op land en het as belangrike keuringsagente op plante opgetree. Plante het chemiese verdedigingsmiddels teen dié vraat ontwikkel, en die insekte het op hulle beurt maniere ontwikkel om die plantgifstowwe te verwerk. Baie insekte gebruik daardie gifstowwe om hulself teen roofdiere te beskerm, en adverteer hulle giftigheid dan dikwels met waarskuwingskleure.[2]

Morfologie en fisiologie

[wysig | wysig bron]
Die bou van 'n insek. A – kop, B – borsstuk, C – agterlyf.

Driedelige liggaam

[wysig | wysig bron]

Die insekliggaam is gesegmenteer en word deur 'n uitwendige skelet van hoofsaaklik chitien gestut. Die segmente is in drie eenhede saamgevoeg: die kop, die borsstuk of toraks en die agterlyf of abdomen. Die kop dra 'n paar voelhorings, 'n paar saamgestelde oë, nul tot drie enkelvoudige ogies of ocelli, en drie stelle aangepaste aanhangsels wat die mondstukke vorm. Die borsstuk dra die drie pare pote en tot twee pare vlerke. Die agterlyf bevat die grootste deel van die spysverterings-, asemhalings-, uitskeidings- en voortplantingsorgane.[2]

Segmentering

[wysig | wysig bron]

Die kop is in 'n harde, sterk versklerotiseerde kopkapsule ingesluit wat nie meer uitwendig gesegmenteer is nie. Die borsstuk bestaan uit drie afdelings: die prothorax voor, dan die mesothorax en agter die metathorax. Die prothorax dra die eerste paar pote, die mesothorax die tweede paar pote en die voorvlerke, en die metathorax die derde paar pote en die agtervlerke. Die agterlyf is die grootste liggaamsdeel, gewoonlik met 11 of 12 segmente, en is minder sterk versklerotiseer as die kop of die borsstuk. Elke segment het 'n verharde plaat bo (die tergum) en onder (die sternum), met buigbare vliese tussen die plate, en elke segment dra 'n paar asemgaatjies.[2]

Uitwendige skelet

[wysig | wysig bron]

Party dele van die insek se huid is baie hard, soos die dop of voorvlerke van die lieweheersbesie en ander kewers. Ander dele is egter sag, veral die vliesagtige dele tussen die segmente van die agterlyf, wat gesien kan word as ons die voorvlerke oplig. Die huid van 'n insek bedek die hele liggaam en is sy uitwendige skelet, waaraan die spiere vasgeheg is. Dit bestaan hoofsaaklik uit 'n waterdigte stof, chitien.

Saamgestelde oë

[wysig | wysig bron]

'n Insek het gewoonlik twee soorte oë: enkelvoudige ogies, die sogenaamde ocelli, bo-op die kop, en 'n groot saamgestelde oog aan elke kant van die kop. Die saamgestelde oë is baie ingewikkeld. Hulle bestaan uit 'n groot aantal klein fasette, wat elkeen 'n uiters klein ogie is, met 'n lens en 'n soort netvlies, byna soos menslike oë, hoewel hul bouvorm verskil. Die getal fasette verskil van soort tot soort. Dit wissel tussen minder as tien in elke oog by party insekte en 4 000 by die huisvlieg, en tot 30 000 by party soorte naaldekokers. Ondanks hul ingewikkelde bou is hierdie saamgestelde oë nie so doeltreffend soos die mens se oë in die vorming van 'n duidelike beeld nie. Hulle is ook nie in staat om te fokus nie. Hulle is egter baie gevoelig vir bewegings. Dit is die rede waarom dit so moeilik is om 'n vlieg te vang.

Ander sintuie

[wysig | wysig bron]
Die meeste insekte het 'n paar groot saamgestelde oë en ander sintuigorgane, soos voelhorings wat bewegings en chemiese stimuli optel, op die kop.

Benewens sig het insekte 'n verskeidenheid gespesialiseerde sintuigorgane wat die posisie van hulle ledemate, lig, water, chemiese stowwe, klank en hitte kan opspoor. Bye kan ultraviolet golflengtes sien en gepolariseerde lig onderskei, en die voelhorings van mannetjiesmotte kan die feromone van wyfies oor meer as 'n kilometer ver bespeur. Daar bestaan 'n afruil tussen skerp sig en skerp chemiese of tasgevoel: insekte met goed ontwikkelde oë het gewoonlik eenvoudiger voelhorings, en omgekeerd.[2]

Insekte was die eerste organismes wat klank kon voortbring én hoor. Hulle neem klank met verskillende meganismes waar, onder meer met dun trillende vliese wat trommelorgane of tympana genoem word. Gehoor het onafhanklik ten minste 19 keer in verskillende insekgroepe ontstaan.[11]

Baie spesies sien kleur en kan lig in die infrarooi, die sigbare en die ultraviolet golflengtes bespeur. Filogenetiese ontledings dui daarop dat drie soorte kleurreseptore – vir ultraviolet, groen en blou – reeds sedert minstens die Devoon, sowat 400 miljoen jaar gelede, bestaan.[12] Die afsonderlike lensies van 'n saamgestelde oog kan nie beweeg nie, maar by die vrugtevlieg beweeg die ligsensitiewe selle onder elke lens vinnig in en uit fokus in 'n reeks bewegings wat fotoreseptor-mikrosakkades genoem word. Dit gee die dier – en waarskynlik ook baie ander insekte – 'n heelwat skerper beeld van sy omgewing as wat vroeër vermoed is.

Die reuksin werk deur chemiese reseptore, meestal op die voelhorings en die mondstukke, wat sowel vlugtige stowwe in die lug as reukstowwe op oppervlakke bespeur. Insekte gebruik reuk om maats, kos en plekke om eiers te lê op te spoor en om roofdiere te vermy, en kan tussen duisende vlugtige verbindings onderskei. Sommige insekte kan ook magneetvelde waarneem: miere en bye gebruik dit om in die omgewing van hulle neste en tydens trek te navigeer.[2]

Voelhorings

[wysig | wysig bron]

Behalwe die oë dra 'n insek nog 'n paar sintuigorgane op die kop: die voelhorings of antennae. Hulle dien veral as reukorgane. 'n Mannetjiemot vind die wyfie met sy reuksin; as sy voelhorings afgesny is, kan hy haar nie vind nie. Die bouvorm van die voelhorings wissel baie by verskillende soorte insekte. Hulle is soms draadvormig, of met knoppe, of met ingewikkelde vertakkings.

Die bors is in drie dele verdeel: prothorax, mesothorax, metathorax (hierdie woorde beteken voor-, middel- en agterbors). Elkeen dra 'n paar pote. Alle insekte het hierdie drie pare pote, nooit meer nie. 'n Spinnekop, met vier pare pote, is dus nie 'n insek nie. Die pote van insekte is gewysig om aan te pas by hul funksie. Die pote van insekte het gewrigte min of meer soos die mens se bene. Hoewel hul bouvorm baie verskil, word dieselfde benamings aan die meeste van hul dele toegeken.

Vlerke

[wysig | wysig bron]

Die vlerke van 'n insek is uitgroeisels van die liggaamswand en nie omgeboude ledemate soos dié van voëls en vlermuise nie. Hulle bestaan uit twee lae kutikula wat teen mekaar plat gedruk is en deur 'n netwerk van are versterk word; die patroon van die are is by baie groepe so kenmerkend dat spesies daarmee uitgeken kan word. Oor die oorsprong van die vlerke word steeds gedebatteer: vroeër is gedink hulle stam van kiewe of van klappies by die asemgaatjies af, maar die meeste entomoloë verkies deesdae 'n ontstaan uit lobbe van die rugplaat van die borsstuk, van die sygedeelte, of van albei.[9]

By verskillende ordes is die twee pare vlerke op heel verskillende maniere aangepas. By die kewers is die voorvlerke tot harde dekskilde of elytra verhard wat die sagte agtervlerke beskerm; by die vlieë en muskiete is die agtervlerke tot klein balanseerorgane of halteres verklein; by die skoenlappers en motte is albei pare met skubbe bedek, en by die miere en termiete het net die geslagsdiere vlerke, wat na die swermvlug afgegooi word. 'n Aantal groepe het vlerke heeltemal verloor, veral parasiete soos luise en vlooie en insekte wat op eilande of in grotte leef.[2]

Asemhaling

[wysig | wysig bron]

Insekte het nie longe soos die mens nie. Hulle het 'n baie ingewikkelde stelsel van lugbuise, of trageë, wat vertak en in alle dele van die liggaam en sy aanhangsels voorkom. Lug dring die trageë binne vanweë asemhalingsbewegings deur klein poortjies, die stigmata.

Juis hierdie stelsel beperk die grootte van insekte: hoe groter die dier, hoe minder doeltreffend word die gasuitruiling deur die asemgaatjies, en die swaarste lewende insek weeg daarom minder as 100 g. In die laat Paleosoïkum, toe die aandeel suurstof in die atmosfeer hoër was, was heelwat groter insekte moontlik, waaronder naaldekokeragtige diere met vlerkspanne van meer as 60 cm.[2]

Bloedsomloop

[wysig | wysig bron]

Omdat suurstof reeds langs die trageë direk aan die weefsels afgelewer word, hoef die bloed dit nie te vervoer nie, en die bloedvatstelsel is gevolglik sterk vereenvoudig. Die insek se bloedsomloop is oop: daar is geen slag- of bloedare nie, net 'n enkele geperforeerde buis wat langs die rug loop en golfagtig saamtrek. Die voorste deel van dié buis is die aorta en die agterste deel die hart. Dit stuwe die hemolimf – die geleedpotiges se ekwivalent van bloed – van agter na voor deur die liggaamsholte. Hemolimf bestaan uit plasma waarin bloedselle of hemosiete sweef, en vervoer voedingstowwe, hormone en afvalstowwe deur die hele liggaam. Die hemosiete speel 'n belangrike rol in die immuunreaksie en in wondgenesing. Die druk van die hemolimf kan deur spiersametrekkings of deur lug in te sluk verhoog word om die dier te help om te vervel.[2]

Senuweestelsel

[wysig | wysig bron]

Die senuweestelsel van 'n insek bestaan uit 'n brein en 'n senuweestring wat langs die buik loop. Die kopkapsule is uit ses vergroeide segmente opgebou, elk oorspronklik met 'n paar senuweeknope. Die eerste drie pare is in die brein vergroei, en die volgende drie pare vorm die onderslukknoop of subesofageale ganglion onder die sluk. Elke segment van die borsstuk en van die eerste agt segmente van die agterlyf het gewoonlik 'n paar knope, hoewel baie insekte minder as dit het omdat opeenvolgende knope vergroei. Insekte kan leer: bye onthou byvoorbeeld watter blomsoorte 'n beloning oplewer, en kan geleerde inligting aan ander bye oordra.[2]

Spysvertering en uitskeiding

[wysig | wysig bron]

Die spysverteringskanaal loop in die lengte deur die liggaam en is in drie dele verdeel, met 'n paar speekselkliere en speekselblasies. Deur sy mondstukke te beweeg meng die insek sy kos met speeksel; sommige insekte, soos die vlieë, spuit spysverteringsensieme op hulle voedsel uit, maar die meeste verteer die kos in die derm. Die voorderm is met kutikula gevoer as beskerming teen harde voedsel en bevat die mond, die sluk en die krop, waar kos gestoor word. Sterk spiere in die sluk pomp vloeistof in die mond in, wat party insekte in staat stel om bloed of die sap uit die vaatbondels van plante op te suig. In die middelderm vind die grootste deel van die vertering plaas; mikroskopiese uitgroeisels vergroot die oppervlak wat voedingstowwe kan opneem. In die agterderm word onverteerde reste met urinesuur tot pilletjies saamgevoeg en word die meeste van die water teruggewin, sodat 'n droë pilletjie uitgeskei word.[2]

Insekte het van een tot honderde Malpighiaanse buisies wat stikstofhoudende afvalstowwe uit die hemolimf verwyder en die osmotiese balans reël. Die afvalstowwe word direk in die spysverteringskanaal by die oorgang tussen die middel- en die agterderm geloos.[2]

Voortplantingsorgane

[wysig | wysig bron]

Die voortplantingstelsel van die wyfie bestaan uit 'n paar eierstokke, bykomende kliere, een of meer saadblasies waarin sperm gestoor word, en die buise wat hierdie dele verbind. Elke eierstok is uit 'n wisselende aantal eierbuisies opgebou. Die bykomende kliere lewer stowwe wat die sperm in stand hou en die eiers beskerm; hulle kan gom afskei om eiers vas te heg of 'n harde eierpakkie of ootheca om 'n hele broeisel vorm.[2]

By die mannetjie bestaan die stelsel uit een of twee testes wat deur trageë in die liggaamsholte gehou word. Die testes bevat spermbuisies in 'n vliesagtige sakkie, wat na 'n buis lei wat na buite oopgaan. Die laaste deel van dié buis is dikwels verhard tot 'n paringsorgaan, die aedeagus.[2]

Voortplanting en ontwikkeling

[wysig | wysig bron]
Twee skoenlappers tydens die paring.

Paring en eiers

[wysig | wysig bron]

Die mannetjie lewer sperm wat met die aedeagus aan die wyfie oorgedra word. By sommige insekte, soos die weeluis, steek die mannetjie sy sperm dwarsdeur die wyfie se liggaamswand in haar liggaamsholte in, 'n verskynsel wat traumatiese bevrugting genoem word. Behalwe by spesies wat hulle deur maagdelike voortplanting vermeerder, is insekte gewoonlik geslagsdimorf: die mannetjie en die wyfie lyk verskillend. Insekte gebruik allerhande strategieë om maats te vind, waaronder geslagsferomone, massaswerms en paringsgeskenke.[2]

Die meeste insekte kom uit eiers, waarin die bevrugting en die ontwikkeling van die embrio plaasvind en wat gewoonlik teen uitdroging beskerm is. Party spesies lê hulle eiers in groot klompe, ander lê enkele eiers op verspreide plekke. By plantluise wissel geslagtelike en ongeslagtelike geslagte mekaar af.[2]

Gedaantewisseling

[wysig | wysig bron]
Onvolledige gedaantewisseling by 'n sprinkaan: die nimfe lyk toenemend soos die volwasse dier (regs). Die eier word nie gewys nie.

Gedaantewisseling is die ontwikkelingsproses waardeur 'n jong insek 'n volwasse insek word. Daar is twee hoofvorme daarvan. By onvolledige gedaantewisseling, hemimetabolie, verander die dier geleidelik: uit die eier kom 'n nimf wat na elke vervelling meer soos die volwasse dier lyk, totdat die laaste vervelling die geslagsryp dier met volgroeide vlerke lewer. Sprinkane, naaldekokers, kakkerlakke en halfvlerkiges ontwikkel op hierdie wyse.[2]

By volledige gedaantewisseling, holometabolie, is daar vier duidelik onderskeie stadiums: die eier, die larwe, die papie en die volwasse dier of imago. Uit die eier kom 'n wurmagtige larwe wat heeltemal anders as die volwasse dier lyk en dikwels van heel ander kos leef; die larwe groei, word dan 'n papie waarin beweging tot 'n minimum beperk is, en die liggaam word in dié stadium byna volledig herbou voordat die volwasse dier uitkom. Die vier grootste insekordes – kewers, vlieë, skoenlappers en motte, en die vliesvlerkiges – is alles holometabool, en die skeiding van die larwe- en die volwasse stadium in verskillende habitatte en voedselbronne word as een van die redes vir hulle groot sukses beskou.[2]

Die lewensiklus van 'n skoenlapper, met volledige gedaantewisseling van eier deur ruspe en papie tot volwasse dier.

Verskillende vorme

[wysig | wysig bron]

Baie insekte ontwikkel op 'n merkwaardige manier: hulle neem vier verskillende vorme aan. Die skoenlapper is die bekendste voorbeeld, maar motte, kewers, bye en miere het ook so 'n lewensloop.

  • Die eier is die eerste stadium in die lewe van die insek.
  • Die ruspe broei uit die eier en word groot en vet.
  • Wanneer dit uitgegroei is, bind die ruspe sy liggaam met sydrade vas aan 'n tak en gooi sy vel af. Dan kom die derde vorm, die papie, te voorskyn.
  • Na verloop van 'n langer of korter tydperk kruip die skoenlapper uit die dop van die papie.

Ontwikkelingstempo en diapouse

[wysig | wysig bron]

Omdat insekte koudbloedig is, versnel 'n hoër temperatuur hulle metabolisme en dus ook hulle ontwikkeling. Die ontwikkelingstadium van 'n insek kan daarom veel akkurater voorspel word as die temperatuur oor tyd in berekening gebring word eerder as bloot die dier se ouderdom in dae. Die meeste insekte voltooi hulle ontwikkeling in 'n jaar of minder, party met een geslag per jaar en ander met verskeie.[2]

In matige klimaatsones ontwikkel die meeste insekte nie deurlopend deur die jaar nie, maar vertraag of staak hulle ontwikkeling gedurende ongunstige tye. Hierdie toestand van rus word diapouse genoem en kan in die somer (estivasie) of in die winter (hibernasie) intree. Sommige spesies gaan elke jaar in diapouse, ongeag die weer, terwyl ander dit net doen wanneer die toestande uiterste vorme aanneem.[2]

Beweging

[wysig | wysig bron]
Sweefvlieë kan vinnig en uiters wendbaar vlieg en op een plek in die lug bly hang.

Die vermoë om te vlieg het net een keer in die geskiedenis van die insekte ontstaan. Die oudste gevlerkte groepe – die naaldekokers, waterjuffers en eendagsvlieë – beweeg hulle vlerke direk met spierpare wat aan die basis van elke vlerk vasgeheg is en dit op en af trek. Dit kan net teen 'n betreklik stadige tempo gedoen word. Al die ander insekte, die Neoptera, het onregstreekse vlug: die vlugspiere laat die borsstuk self vinnig ossilleer, en die vlerke kan meer kere klap as wat daar senuwee-impulse na die spiere gestuur word. Een paar vlugspiere loop vertikaal en trek die bokant van die borsstuk af, wat die vlerke laat opgaan; die ander paar loop in die lengte en stoot die bokant van die borsstuk op, wat die vlerke laat afgaan.[2]

Die meeste insekte kry hulle stukrag deurdat 'n draaikolk aan die voorrand van die vlerk gevorm word. Uiters klein insekte soos blaasvoetjies, met vlerkies wat na vere lyk, gebruik 'n meganisme waarin die vlerke bo die liggaam teen mekaar geklap en dan weer weggetrek word, sodat draaikolke by die voorrande en die vlerkpunte losgelaat word. Klein insekte word grotendeels deur die heersende winde saamgevoer, terwyl groter insekte doelgerig kan trek; plantluise word oor honderde kilometers deur laevlakstraalstrome vervoer. Die grootste vlerkspan onder lewende insekte, sowat 28 cm, is dié van die Suid-Amerikaanse mot Thysania agrippina.[13]

Die meeste volwasse insekte loop met al ses pote in 'n afwisselende driepootgang. Die middelste regterpoot en die voorste en agterste linkerpote raak die grond en stoot die dier vorentoe, terwyl die voorste en agterste regterpoot en die middelste linkerpoot gelig en vorentoe geswaai word. Wanneer dié drie die grond tref en 'n nuwe stabiele driehoek vorm, kan die ander drie op hulle beurt gelig word. So bly die dier deurentyd op 'n driehoek gebalanseer en kan dit baie vinnig beweeg. Die gang is nie star nie: wanneer 'n insek stadig beweeg, draai, hindernisse klim of op 'n glyerige oppervlak loop, kan vier of meer pote gelyk die grond raak. Kakkerlakke is van die vinnigste insekte en hardloop teen volle snelheid op net hulle twee agterpote.[2]

Die bootsmannetjie Notonecta glauca onder water, met sy agterpote wat tot roeispane aangepas is.

'n Groot aantal insekte leef 'n deel van of hulle hele lewe onder water. By baie van die primitiewer ordes leef net die onvolwasse stadiums in die water, maar by groepe soos die waterkewers is die volwasse diere dit ook. Waterkewers en waterwantse het pote wat tot roeispane aangepas is, en die nimfe van naaldekokers beweeg met straalaandrywing deurdat hulle water met krag uit die endelderm stoot. Party insekte, soos die waterlopers, loop op die wateroppervlak; hulle kloue sit in 'n groef weggesteek sodat dit nie die oppervlakvlies deurbreek nie. Die kortvlerkkewer Stenus skei stowwe af wat die oppervlakspanning agter hom verlaag en hom sonder om sy pote te gebruik oor die water vorentoe trek.[2]

Kommunikasie

[wysig | wysig bron]

Klank

[wysig | wysig bron]

Insekte wat klank voortbring, kan dit gewoonlik ook hoor, en die meeste hoor net 'n smal band van frekwensies wat by die klanke pas wat hulle self maak. Muskiete hoor tot ongeveer 2 kilohertz. Party roof- en parasitiese insekte kan die kenmerkende klanke van hulle prooi of gasheer optel, en sommige nagmotte neem die ultrasoniese roepe van vlermuise waar en wyk uit sodra hulle besef dat hulle opgespoor is.[2]

Insekte maak hulle klanke meestal deur meganiese beweging van hulle aanhangsels. By sprinkane en krieke word 'n geribde deel van die een liggaamsdeel teen 'n skerp rand van 'n ander gevryf – 'n verskynsel wat stridulasie genoem word. Sikades maak die hardste geluide van al die insekte deur die vinnige inknik van 'n paar stywe vliese, die tymbale, wat deur die hol agterlyf versterk word. Die Afrika-sikade Brevisana brevis is op 106,7 desibel op 'n afstand van 50 cm gemeet.[13] Sommige motte gee ultrasoniese klikke af wat vlermuise waarsku dat hulle onsmaaklik is, en smaaklike spesies het weer ontwikkel om dié klikke na te maak.

Omdat klein diere nie doeltreffend lae frekwensies in die lug kan voortbring nie en hoë frekwensies in digte plantegroei vinnig verstrooi, kommunikeer baie insekte eerder met trillings deur die oppervlak waarop hulle sit. Ruspes van die bloutjies (Lycaenidae), wat in 'n onderlinge voordelige verhouding met miere staan, praat op hierdie manier met hulle mierbegeleiers. Die sissende kakkerlak van Madagaskar pers lug deur sy asemgaatjies uit om 'n sissende geluid as dreigsein te maak, en die doodshoofmot laat 'n piepgeluid hoor deur lug uit sy sluk te stoot wanneer dit gepla word.[2]

'n Klein aantal insekte is bioluminessent, onder meer die swamvlieë (Mycetophilidae) en die kewerfamilies Lampyridae, Phengodidae, Elateridae en Staphylinidae. Die bekendste hiervan is die vuurvlieë, kewers van die familie Lampyridae. Party spesies beheer die lig so goed dat hulle dit in flitse kan afgee: sommige lok daarmee maats, ander prooi. Die larwes van die genus Arachnocampa gloei in grotte om klein vlieënde insekte na taai sydrade te lok. Wyfies van die genus Photuris boots die flitse van wyfies van Photinus na om mannetjies van dié genus te lok en dan te verorber. Die kleur van die lig wissel van dowwe blou by Orfelia fultoni tot die bekende groen en die skaars rooi van Phrixothrix.[2]

Chemiese kommunikasie

[wysig | wysig bron]
Sosiale insekte soos miere het verskeie soorte feromoonkliere wat elk 'n ander boodskapstof afskei.

Baie insekte kommunikeer met chemiese stowwe. Hierdie semiochemikalieë is dikwels van plantstowwe afgelei. Feromone lok maats van die teenoorgestelde geslag, laat individue van dieselfde spesie saamdrom, hou ander individue weg, merk 'n spoor of laat die diere in die omgewing aanvallend word. Allomone bevoordeel die dier wat hulle afskei, kairomone die dier wat hulle ontvang, en sinomone albei. Reukstowwe is by die sosiale insekte veral goed ontwikkel. Die kutikulêre koolwaterstowwe wat op die oppervlak van die uitwendige skelet afgeskei word om uitdroging en siektewekkers te weer, dien terselfdertyd as feromone waarmee nesmaats van vreemdelinge onderskei word.[2]

Sosiale gedrag

[wysig | wysig bron]
'n Katedraalheuwel wat deur heuwelbouende termiete opgerig is.
Die heuningby se agtvormige kwispeldans. 'n Rigting 45° regs van "op" op die heuningkoek dui voedsel 45° regs van die son aan.

Insektestate

[wysig | wysig bron]

Termiete, miere en baie bye en wespe is eusosiaal: hulle leef saam in groot, goed georganiseerde kolonies van geneties verwante individue, wat soms as 'n superorganisme beskryf word. Die voortplanting is grootliks tot een koninginkaste beperk, en die ander wyfies is werkers wat deur die gedrag van hulle nesmaats verhinder word om self eiers te lê. Heuningbye het 'n stelsel van abstrakte, simboliese kommunikasie ontwikkel: in die sogenaamde danstaal dui die hoek waarteen 'n by op die heuningkoek dans die rigting van 'n voedselbron ten opsigte van die son aan, en die duur van die dans die afstand daarheen.[2]

[wysig | wysig bron]

Slegs insekte wat in neste of kolonies leef, beskik oor fyn ruimtelike oriëntasie. Party van hulle kan na 'n vlug van etlike kilometers foutloos na 'n enkele gaatjie van 'n paar millimeter wyd tussen duisende soortgelyke gaatjies terugkeer. Insekte wat oorwinter, kan 'n bepaalde plek tot 'n jaar nadat hulle dit laas gesien het, weer opspoor. 'n Paar spesies trek jaarliks oor groot afstande tussen streke, soos die monargskoenlapper wat die hele breedte van Noord-Amerika oorbrug.[2]

Sorg vir die nageslag

[wysig | wysig bron]

Eusosiale insekte bou neste, bewaak die eiers en versorg die larwes voltyds. Die meeste insekte leef egter kort as volwassenes en het buiten om te paar of oor maats te meeding min met mekaar te doen. 'n Klein aantal spesies bied wel ouersorg: oorkruipers bewaak byvoorbeeld hulle eiers en hulle pas uitgebroeide larwes. Baie wespe en bye bou 'n nes of grawe 'n gaatjie, sit daar kos in, lê 'n eier op die kos en gee daarna geen verdere sorg nie.[2]

Ekologie

[wysig | wysig bron]
Insekte vlug snags voor 'n kollig by 'n watergat in Namibië, Okambara Elephant Lodge, met sigbare sterre op die agtergrond.

Insekte speel talle onontbeerlike rolle in ekostelsels: hulle keer en belug die grond, begrawe mis, hou plaaginsekte in toom, bestuif plante en dien as voedsel vir ander diere. Termiete verander byvoorbeeld die omgewing rondom hulle neste so dat gras beter daar groei; baie kewers is aasvreters, en miskruiers werk organiese materiaal in vorms om wat vir ander organismes bruikbaar is. Insekte is vir 'n groot deel van die vorming van bogrond verantwoordelik.[14]

Verdediging

[wysig | wysig bron]
Die nimf van die gemaskerde jagwants Reduvius personatus kamoefleer homself met sandkorrels.

Insekte is meestal klein, sagliggamig en broos in vergelyking met groter diere, en die onvolwasse stadiums beweeg stadig of hoegenaamd nie, sodat elke lewenstadium aan predasie en parasitisme blootgestel is. Insekte gebruik gevolglik 'n hele reeks verdedigingstrategieë: kamoeflering, mimiek, giftigheid en aktiewe verdediging.[2]

Baie insekte vertrou op kamoeflering om nie deur roofdiere of prooi opgemerk te word nie; dit is algemeen onder blaarkewers en kalanders wat op hout of plantegroei leef, en stokinsekte boots die vorm van takkies en blare na. Ander insekte bedrieg hulle vyande met mimiek. By Batesiaanse mimiek verkry 'n eetbare spesie, soos party sweefvlieë, 'n oorlewingsvoordeel deurdat dit na 'n oneetbare spesie lyk. By Müllerse mimiek lyk verskillende oneetbare spesies, soos wespe en bye, na mekaar, sodat roofdiere minder individue hoef te toets voordat hulle die patroon leer.[2]

Chemiese verdediging is veral algemeen onder die kewers en die skoenlappers en motte, en word gewoonlik met helder waarskuwingskleure geadverteer, soos by die monargskoenlapper. As larwes verkry hulle hulle giftigheid dikwels deur stowwe uit die plante wat hulle vreet in hulle eie weefsel op te gaar; ander maak hulle eie gifstowwe. Roofdiere wat sulke diere eet, word dikwels heftig naar en leer om insekte met daardie kleurpatroon te vermy. Party grondkewers van die familie Carabidae verdedig hulle aktief deur bytende stowwe uiters akkuraat uit die punt van die agterlyf te spuit.[2]

Bestuiwing

[wysig | wysig bron]
'n Heuningby vervoer stuifmeel in die stuifmeelkorfies aan haar agterpote na die korf.

Bestuiwing is die oordrag van stuifmeel wat die bevrugting en geslagtelike voortplanting van plante moontlik maak. Die meeste blomplante het 'n dier nodig om dié oordrag te doen, en die grootste deel van alle bestuiwing word deur insekte verrig. Omdat die insek gewoonlik in die vorm van energieryke nektar daarby baat, is die verhouding vir albei voordelig. Blomeienskappe soos helder kleure en reukstowwe wat saam met die bestuiwers ontwikkel het, word bestuiwingsindrome genoem, hoewel omtrent 'n derde van alle blomme nie in een enkele sindroom inpas nie.[2]

Parasitisme

[wysig | wysig bron]

Baie insekte is parasiete. Die grootste groep is 'n enkele klade parasitoïede wespe binne die Hymenoptera, met meer as 100 000 beskryfde spesies en moontlik meer as 'n miljoen. Hulle is parasiete van ander insekte en maak hulle gasheer uiteindelik dood; party is selfs hiperparasiete wie se gashere ander parasitoïede wespe is. Verskeie insekgroepe kan as klein roofdiere of as uitwendige parasiete beskou word: baie halfvlerkiges het steek-en-suigmondstukke wat vir plantsap aangepas is, terwyl vlooie, luise en muskiete bloed suig.[1]

Insekte en die mens

[wysig | wysig bron]

As peste

[wysig | wysig bron]
Aedes aegypti, die geelkoorsmuskiet, dra verskeie siektes oor.

Baie insekte word deur die mens as peste beskou. Daaronder val parasiete van mense en vee soos luise en weeluise, en muskiete wat siektes soos malaria, geelkoors en denguekoors oordra. Termiete beskadig houtkonstruksies; plantvretende insekte soos sprinkane, plantluise en blaasvoetjies vernietig gewasse op die land, en kalanders bederf gestoorde graan. Boere het lank gepoog om insekte met chemiese insekdoders te beheer, maar maak toenemend van biologiese beheer gebruik, waarin een organisme gebruik word om die getalle van 'n ander te verminder. Dit is 'n kernonderdeel van geïntegreerde plaagbestuur en word verkies omdat insekdoders skade ver buite die beoogde teiken in die ekostelsel kan aanrig.[2]

Nuttige insekte

[wysig | wysig bron]
Sywurms is meer as 5 000 jaar gelede vir hulle sy gedomestikeer. Hier word die kokonne afgerol.

Die bestuiwing van blomplante deur bye, skoenlappers, vlieë en kewers is ekonomies van groot belang. Die waarde van insekbestuiwing van gewasse en vrugtebome in die Verenigde State alleen is in 2021 op ongeveer 34 miljard dollar per jaar bereken.[15]

Insekte lewer nuttige stowwe soos heuning, byewas, skellak, sy en karmyn. Heuningbye word al duisende jare deur die mens aangehou; die oudste bekende bewyse van byeboerdery in erdepotte, uit Noord-Afrika, is sowat 9 000 jaar oud.[16] Die sywurm het die geskiedenis diep beïnvloed, want die handel in sy het die eerste bestendige bande tussen China en die res van die wêreld gesmee.

Insekte wat ander insekte vreet of parasiteer, is vir die mens van waarde as hulle daardeur skade aan landbou of geboue verminder. Plantluise vreet gewasse en veroorsaak ekonomiese verlies, maar lieweheersbesies vreet plantluise en word doelbewus gebruik om hulle te beheer. Vlieglarwes is vroeër gebruik om wonde skoon te maak en gangreen te voorkom, omdat hulle net dooie weefsel vreet; die behandeling word deesdae in party hospitale weer toegepas. Volwasse krieke en die larwes van verskeie insekte is algemene hengelaas.[2]

As voedsel

[wysig | wysig bron]
Witchetty-wurms, die larwes van 'n Australiese houtmot, word deur die inheemse mense van Australië as proteïenryke kos hoog op prys gestel.

Insekte word in 80% van die wêreld se lande as kos geëet, deur mense uit sowat 3 000 etniese groepe. In Afrika is plaaslik volop soorte sprinkane en termiete 'n algemene tradisionele voedselbron, en diepgebraaide sikades word as 'n lekkerny beskou. Insekte het 'n hoë proteïeninhoud in verhouding tot hulle massa en is ook ryk aan minerale en vette. Die Voedsel- en Landbouorganisasie van die Verenigde Nasies beskou insekte as 'n belangrike toekomstige bron van voedsel en veevoer, veral omdat hulle heelwat minder land, water en voer per kilogram proteïen verg as beeste of varke.[17] In die meeste Westerse lande bly entomofagie, die eet van insekte, egter 'n taboe.

Die larwes van die swart soldatevlieg en die huisvlieg, en kewerlarwes soos meelwurms, word verwerk en as voer vir hoenders, vis en varke gebruik, terwyl die vet van insekte soos die reusemeelwurm (Zophobas morio) in kosmetika gebruik word.[2]

In navorsing

[wysig | wysig bron]
Die vrugtevlieg Drosophila melanogaster is een van die mees gebruikte modelorganismes in die biologie.

Insekte speel 'n groot rol in biologiese navorsing. Die vrugtevlieg Drosophila melanogaster is weens sy klein grootte, kort geslagsduur en groot nageslag 'n modelorganisme vir studies in die genetika van eukariote, waaronder geenkoppeling, wisselwerking tussen gene, chromosoomgenetika, embrionale ontwikkeling, gedrag en evolusie. Omdat die basiese genetiese meganismes onder eukariote sterk bewaar is, help kennis van prosesse soos DNS-replikasie en transkripsie in die vrugtevlieg om dieselfde prosesse in ander organismes, ook die mens, te verstaan. Die genoom van D. melanogaster is in 2000 volledig bepaal, en sowat 70% daarvan stem met dié van die mens ooreen.[2]

Afname in insekgetalle

[wysig | wysig bron]

Sedert 1500 is die uitsterwing van minstens 66 insekspesies aangeteken, baie daarvan op oseaaneilande.[18] Die afname in die getalle van insekte word aan menslike bedrywighede toegeskryf: kunsmatige beligting, veranderde grondgebruik soos verstedeliking en die uitbreiding van landbou, die gebruik van plaagdoders en die invoer van indringerspesies. 'n Oorsigartikel van 2019 het gewaarsku dat 'n groot deel van alle insekspesies in die 21ste eeu met uitsterwing bedreig word, hoewel besonderhede daarvan betwis is.[19] 'n Groter meta-ontleding van 2020, wat die gegewens van 166 langtermynopnames verwerk het, het bevind dat die getalle van insekte op land wel vinnig afneem – met sowat 9% per dekade – terwyl dié van varswaterinsekte in dieselfde tyd toegeneem het.[20]

In godsdiens en volksgeloof

[wysig | wysig bron]
'n Egiptiese skarabee met los vlerke, sowat 712–342 v.C.

Miskruiers het godsdienstige en kulturele betekenis in die Antieke Egipte, Griekeland en in party sjamanistiese kulture van die Ou Wêreld gehad. Die ou Chinese het sikades as simbole van herlewing en onsterflikheid beskou. In die Mesopotamiese letterkunde bevat die epos van Gilgamesj toespelings op naaldekokers as beeld van die onbereikbaarheid van onsterflikheid. By die San van die Kalahari is dit die hottentotsgot wat groot kulturele betekenis het, onder meer in verband met die skepping.[2]

Insekte in Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Suid-Afrika is een van die spesierykste lande ter wêreld en huisves na skatting 67 000 dierspesies, waarvan die oorgrote meerderheid ongewerweldes is; talle daarvan is nog nie beskryf nie. Die land het byna 5% van die wêreld se skoenlapperspesies, 3% van sy naaldekokers en waterjuffers en sowat 10% van alle miskruierspesies.[21] 'n Oorsig van 2021 het 44 088 beskryfde Suid-Afrikaanse insekspesies getel, en het opgemerk dat die stadige tempo waarteen nuwe spesies bygevoeg word grootliks aan die klein aantal insektaksonome in die land toegeskryf kan word.[22]

Sprinkaanplae

[wysig | wysig bron]

Die bruinsprinkaan (Locustana pardalina) is die ekonomies belangrikste plaagsprinkaan van Suid-Afrika. Sy uitbraakgebied strek oor sowat 250 000 km² van die Karoo en die aangrensende dele van suidelike Botswana en Namibië. Deur die hele twintigste eeu moes swerms in omtrent nege uit elke tien jaar êrens in die Karoo bestry word, en grootskaalse plae wat oor jare heen voortduur, kom ongeveer een keer per dekade voor. Die eiers word in digte "eierbeddens" gelê wat van een hektaar tot meer as 3 km² kan beslaan, met soms meer as 500 eierpakkies per vierkante meter. Die eiers kan jare lank in droë grond oorleef en broei ná goeie reën gelyktydig uit, wat die skielike verskyning van reusagtige swerms verklaar.[23]

Insekte as voedsel en inkomste

[wysig | wysig bron]
Gedroogde mopaniewurms, die ruspe van die mopaniemot (Gonimbrasia belina), te koop.

Die mopaniewurm, die ruspe van die mopaniemot (Gonimbrasia belina), is een van die belangrikste eetbare insekte van Suider-Afrika. Die ruspes vreet byna uitsluitlik aan die mopanieboom en word in Limpopo en Mpumalanga sowel as in Botswana, Namibië en Zimbabwe geoes. Die handel daarin is op tot 59 miljoen Amerikaanse dollar per jaar gewaardeer en verskaf soveel as 10 000 seisoenale werkgeleenthede; die inkomste kom laat in Desember in, juis wanneer landelike huishoudings kontant vir skoolgeld nodig het. Modelle van klimaatsverandering voorspel egter dat die spesie se geskikte habitat teen die 2080's met tot 70% kan inkrimp.[24] Ook die geswermde geslagsdiere van termiete, wat in Afrikaans dikwels vlieënde miere genoem word, word in dele van die land geëet.

Biologiese plaagbeheer

[wysig | wysig bron]

Suid-Afrika is een van die wêreld se voorlopers op die gebied van biologiese beheer van indringerplante deur middel van insekte. Die kaktusmot Cactoblastis cactorum, wat uit Argentinië via Australië ingevoer is, is in 1933 teen die turksvy (Opuntia ficus-indica) vrygelaat, en die skaalinsek Dactylopius opuntiae in 1938. Die geskiedenis het lank die mot as die groot sukses beskou, maar 'n heroorweging van die langtermyndata het getoon dat dit eintlik die skaalinsek was wat die kaktus onderkry het: op vier proefpersele naby Skukuza in die Krugerwildtuin, wat sedert 1992 gemonitor is, het die digtheid van Opuntia stricta tussen 1992 en 1997 – toe net die mot teenwoordig was – onveranderd gebly of selfs toegeneem, maar binne vyf jaar nadat 'n vorm van die skaalinsek wat op O. stricta aangepas is in 1997 ingevoer is, het die getal blaaie en vrugte op al die persele skerp gedaal en sedertdien laag gebly.[25] Kalanders van die genus Neochetina word op soortgelyke wyse teen die waterhiasint in Suid-Afrikaanse riviere en damme ingespan.

Insekte en gesondheid

[wysig | wysig bron]

Malaria kom in Suid-Afrika net in die laagliggende noordelike en noordoostelike grensstreke van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voor. Die twee belangrikste oordraers is die muskiete Anopheles funestus en Anopheles arabiensis. Die eerste is grootliks deur die provinsiale programme van binnenshuise residuele bespuiting uitgeskakel, maar An. arabiensis, wat sowel binne as buite huise byt en rus, hou die oordrag aan die gang en het toenemende weerstand teen insekdoders ontwikkel.[26]

Taksonomie

[wysig | wysig bron]

Geskiedenis van die klassifikasie

[wysig | wysig bron]

Aristoteles was die eerste wat die insekte as 'n afsonderlike groep beskryf het. Hy het hulle op sy scala naturae op die tweede laagste vlak van die diere geplaas, bo die sponse en wurms maar onder die hardedopseeslakke, en sy indeling het eeue lank in gebruik gebly.[2]

In 1758 het Carolus Linnaeus in Systema Naturae die diereryk in ses klasse verdeel, waaronder Insecta. Hy het sewe ordes van insekte volgens die bou van hulle vlerke geskep: die vlerklose Aptera; die tweevlerkige Diptera; en vyf viervlerkige ordes, naamlik die Coleoptera met heeltemal verharde voorvlerke, die Hemiptera met gedeeltelik verharde voorvlerke, die Lepidoptera met beskubde vlerke, die Neuroptera met vliesagtige vlerke maar sonder angel, en die Hymenoptera met vliesagtige vlerke en 'n angel.[2]

Jean-Baptiste de Lamarck het die insekte in sy Philosophie zoologique van 1809 as een van nege filums van ongewerweldes behandel. Georges Cuvier het in Le Règne Animal van 1817 al die diere in vier groot afdelings met verskillende bouplanne verdeel, waarvan een die gelede diere was wat sowel die geleedpotiges as die ringwurms ingesluit het. Dié reëling is deur die embrioloog Karl Ernst von Baer (1828), die soöloog Louis Agassiz (1857) en die vergelykende anatoom Richard Owen (1860) gevolg. In 1874 het Ernst Haeckel die diereryk in twee subryke verdeel, waarvan die een die Metazoa vir die veelsellige diere was, met vyf filums waaronder die gelede diere.[2]

Moderne indeling

[wysig | wysig bron]

Klassifikasies wat op uitwendige bou gegrond is, gee die Hexapoda gewoonlik die rang van superklas met vier groepe daarin: die insekte (Ectognatha), die springsterte (Collembola), die oerinsekte (Protura) en die tweestertjies (Diplura), waarvan die laaste drie op grond van hulle ingetrokke mondstukke as Entognatha saamgegroepeer word.[8]

Filogenetiese gegewens het talle veranderinge bo die vlak van die ordes meegebring. Die insekte word steeds in twee groepe verdeel wat histories as subklasse behandel is – die vlerklose Apterygota en die gevlerkte Pterygota – maar die Apterygota is nie 'n natuurlike groep nie. Binne die Pterygota het die Neoptera spiere wat hulle in staat stel om die vlerke plat oor die agterlyf te vou, en dié groep word verdeel in vorms met onvolledige gedaantewisseling (Polyneoptera en Paraneoptera) en dié met volledige gedaantewisseling (Holometabola).[7]

Molekulêre studies het verder getoon dat die tradisionele luisordes Mallophaga en Anoplura binne die Psocoptera val, wat tot die nuwe takson Psocodea gelei het; dat die hottentotsgotte (Mantodea), kakkerlakke (Blattodea) en termiete (Isoptera) saam 'n monofiletiese groep, die Dictyoptera, vorm, met die termiete as 'n groep binne die kakkerlakke; en dat die vlooie naby verwant is aan die skerpioenvlieë van die familie Boreidae. Die stokinsekte (Phasmatodea) en die webspinners (Embioptera) word vermoedelik as die Eukinolabia saamgegroepeer.[7]

Ordes

[wysig | wysig bron]

Die klas insekte word onderverdeel in sowat dertig ordes:

  • Insekte
    • Apterygota (sonder vlerke)
      • Thysanura
        • Microcoryphia
        • Zygentoma
      • Diplura
      • Protura – oerinsekte
      • Collembola – springsterte

Baie taksonome reken die primitiewer groepe sespotiges hierbo nie by die klas van die insekte nie en beskou net die volgende ordes as "regte" insekte.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 3 4 Stork, Nigel E. (2018). "How Many Species of Insects and Other Terrestrial Arthropods Are There on Earth?". Annual Review of Entomology (in Engels). 63 (1): 31–45. doi:10.1146/annurev-ento-020117-043348. PMID 28938083.
  2. 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 Gullan, P. J.; Cranston, P. S. (2014). The Insects: An Outline of Entomology (in Engels) (5de uitg.). Oxford: Wiley Blackwell. ISBN 978-1-118-84616-2.
  3. "Longest insect body length" (in Engels). Guinness World Records. Besoek op 24 Augustus 2026.
  4. "ἔντομος". A Greek-English Lexicon. Perseus Digital Library. Besoek op 24 Augustus 2026.
  5. "gogga, goggo, n." Dictionary of South African English. Besoek op 24 Augustus 2026.
  6. Crook, Glynis (2018). "Marine insects: small but significant" (in Engels). Deutsche Welle. Besoek op 24 Augustus 2026.
  7. 1 2 3 4 Misof, Bernhard; et al. (2014). "Phylogenomics resolves the timing and pattern of insect evolution". Science (in Engels). 346 (6210): 763–767. doi:10.1126/science.1257570. PMID 25378627.
  8. 1 2 3 Kjer, Karl M.; Simon, Chris; Yavorskaya, Margarita; Beutel, Rolf G. (2016). "Progress, pitfalls and parallel universes: a history of insect phylogenetics". Journal of the Royal Society Interface (in Engels). 13 (121): 20160363. doi:10.1098/rsif.2016.0363. PMID 27558853.
  9. 1 2 Ross, Andrew (2022). "Evolution: The origin of insect wings revisited". Current Biology (in Engels). 32 (15): R851 – R853. doi:10.1016/j.cub.2022.06.087. PMID 35944489.
  10. Schachat, Sandra R.; Goldstein, Paul Z.; Desalle, Rob; et al. (2023). "Illusion of flight? Absence, evidence and the age of winged insects". Biological Journal of the Linnean Society (in Engels). 138 (2): 143–168. doi:10.1093/biolinnean/blac137.
  11. Warren, Ben; Nowotny, Manuela (2021). "Bridging the Gap Between Mammal and Insect Ears – A Comparative and Evolutionary View of Sound-Reception". Frontiers in Ecology and Evolution (in Engels). 9: 667218. doi:10.3389/fevo.2021.667218.
  12. Briscoe, Adriana D.; Chittka, Lars (2001). "The evolution of color vision in insects". Annual Review of Entomology (in Engels). 46: 471–510. doi:10.1146/annurev.ento.46.1.471. PMID 11112177.
  13. 1 2 "The University of Florida Book of Insect Records" (in Engels). Department of Entomology and Nematology, University of Florida. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Desember 2022. Besoek op 24 Augustus 2026.
  14. Schowalter, Timothy D. (2006). Insect Ecology: An Ecosystem Approach (in Engels) (2de uitg.). Academic Press. ISBN 978-0-12-088772-9.
  15. Jordan, Alex; Patch, Harland M.; Grozinger, Christina M.; Khanna, Vikas (2021). "Economic Dependence and Vulnerability of United States Agricultural Sector on Insect-Mediated Pollination Service". Environmental Science & Technology (in Engels). 55 (4): 2243–2253. doi:10.1021/acs.est.0c04786. PMID 33496588.
  16. Roffet-Salque, Mélanie; et al. (2015). "Widespread exploitation of the honeybee by early Neolithic farmers". Nature (in Engels). 527 (7577): 226–230. doi:10.1038/nature15757. PMID 26560301.
  17. Van Huis, Arnold; Van Itterbeeck, Joost; Klunder, Harmke; et al. (2013). Edible insects: future prospects for food and feed security (in Engels). Rome: Voedsel- en Landbouorganisasie van die Verenigde Nasies. ISBN 978-92-5-107595-1.
  18. Briggs, John C. (2017). "Emergence of a sixth mass extinction?". Biological Journal of the Linnean Society (in Engels). 122 (2): 243–248. doi:10.1093/biolinnean/blx063.
  19. Sánchez-Bayo, Francisco; Wyckhuys, Kris A. G. (2019). "Worldwide decline of the entomofauna: A review of its drivers". Biological Conservation (in Engels). 232: 8–27. doi:10.1016/j.biocon.2019.01.020.
  20. Van Klink, Roel; et al. (2020). "Meta-analysis reveals declines in terrestrial but increases in freshwater insect abundances". Science (in Engels). 368 (6489): 417–420. doi:10.1126/science.aax9931. PMID 32327596.
  21. "South Africa's biodiversity profile" (in Engels). Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut. Besoek op 24 Augustus 2026.
  22. Myburgh, Mart-Mari M.; Madisha, M. Thabang; Coetzer, Willem G. (2021). "South Africa's contribution of insect records on the BOLD system". Molecular Biology Reports (in Engels). 48 (12): 8211–8220. doi:10.1007/s11033-021-06822-y. PMID 34652616.
  23. Price, Roger E. (2023). "Invasions and Local Outbreaks of Four Species of Plague Locusts in South Africa: A Historical Review of Outbreak Dynamics and Patterns". Insects (in Engels). 14 (11): 846. doi:10.3390/insects14110846. PMID 37999045.
  24. Shen, David Y.; Ferguson-Gow, Henry; Groner, Vivienne; et al. (2023). "Potential decline in the distribution and food provisioning services of the mopane worm (Gonimbrasia belina) in southern Africa". Frontiers of Biogeography (in Engels). 15 (2): e59408. doi:10.21425/F5FBG59408.
  25. Hoffmann, John H.; Moran, Vincent C.; Zimmermann, Helmuth G.; Impson, Fiona A. C. (2020). "Biocontrol of a prickly pear cactus in South Africa: Reinterpreting the analogous, renowned case in Australia". Journal of Applied Ecology (in Engels). 57 (12): 2475–2484. doi:10.1111/1365-2664.13737.
  26. Munhenga, Givemore; et al. (2022). "Malaria risk and receptivity: Continuing development of insecticide resistance in the major malaria vector Anopheles arabiensis in northern KwaZulu-Natal, South Africa". South African Journal of Science (in Engels). 118 (3/4). doi:10.17159/sajs.2022/11755.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]