Engeland
- Hierdie artikel handel oor die huidige land binne die Verenigde Koninkryk. Vir die historiese koninkryk, sien Koninkryk van Engeland.
| |||||
| Volkslied: verskeie Hoofsaaklik: God Save the King (Engels vir: "God beskerm die koning") | |||||
| Hoofstad | Londen | ||||
| Grootste stad | Londen | ||||
| Amptelike tale | Engels | ||||
| Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Charles III Andy Burnham | ||||
| Onafhanklikheid Vorming • Vereniging deur Athelstan • Normandiese verowering • Unie met Wallis • Unie van die Krone • Glorieryke rewolusie • Unie met Skotland |
10de eeu (tradisioneel 927) 1066–1088 1535–1542 24 Maart 1603 11 Desember 1688 1 Mei 1707 | ||||
| Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
130 310[1] km2 (1ste (VK)) 50 313 myl2 | ||||
| Bevolking - 2024-skatting - 2021-sensus - Digtheid |
58 620 101[2] (1ste (VK)) 56 490 048[3] 450 / km2 (1ste (VK)) 1 165 / myl2 | ||||
| BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2023-skatting £2,113 biljoen (1ste (VK)) | ||||
| BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2023-skatting £2,330 biljoen (1ste (VK)) | ||||
| Geldeenheid | Pond sterling (£) (GBP) | ||||
| Tydsone - Somertyd |
GMT (UTC±0) BST (UTC+1) | ||||
| Internet-TLD | .uk, .gb | ||||
| Skakelkode | +44 | ||||
| Beskermheilige: Sint Joris Nasionale blom: Tudorroos | |||||
Engeland (Engels: England) is die grootste en bevolkingsrykste van die vier nasies wat saam die Verenigde Koninkryk vorm. Dit word in die noorde deur Skotland en in die weste deur Wallis begrens. Die Noordsee is oos, die Ierse See noordwes en die Keltiese See suidwes van Engeland geleë. Die Noordsee in die ooste en die Engelse Kanaal in die suide skei Engeland van die Europese vasteland.


Engeland beslaan die sentrale en suidelike dele van die Noord-Atlantiese eiland Groot-Brittanje. Meer as 100 kleiner eilande maak daarnaas deel uit van Engeland, waaronder die Scilly-eilande en die Eiland Wight.
Menslike gemeenskappe het hulle al in die Jongsteentydperk in die gebied gevestig wat tans as Engeland bekend staan, maar dit was die Angele, een van die Germaanse stamme wat hulle in die 5de en 6de eeu op die eiland gevestig het, wat hul naam aan die land verleen het. In 927 is die verskillende klein koninkryke in 'n gemeenskaplike Engelse Ryk verenig.
Vanaf die groot ontdekkingstydperk in die 15de eeu het Engeland beduidende kulturele, regtelike, ekonomiese en uiteindelik ook taalkundige invloed op ander wêrelddele uitgeoefen. Die Engelse regstelsel is net soos die Anglikaanse Kerk en die Engelse taal in ander lande oorgeneem, terwyl die Engelse parlementêre regeringstelsel as voorbeeld vir staatkundige bedelings in ander lande gedien het. Engeland was in die 18de eeu ook die bakermat van die nywerheidsomwenteling wat van hier na ander Europese en uiteindelik ook oorsese lande uitgebrei het en van Engeland die eerste nywerheidsland ter wêreld gemaak het.
Leidende Engelse nywerheidstede soos Manchester, Birmingham en Liverpool het grondstowwe, wat uit alle hoeke van die wêreld na Engeland ingevoer is, tot goedere verwerk wat wêreldwyd bemark is, terwyl Londen as hoofstad en regeringsetel tot een van die wêreld se voorste metropole en die politieke, ekonomiese en kulturele spilpunt van die Britse Ryk ontwikkel het. Vandag beslaan die metropolitaanse gebied van Groter Londen groot dele van Suidoos-Engeland en speel steeds 'n eersterangse ekonomiese rol as die finansiële spilpunt van Europa en as die sentrum van innovasie op 'n verskeidenheid terreine – veral populêre kultuur.
Etimologie
Die naam "Engeland" is afgelei van die Ou Engelse naam Englaland wat "land van die Angele" beteken.[6] Die Angele was een van die Germaanse stamme wat hulle hulle tydens die vroeë Middeleeue op Groot-Brittanje gevestig het. Hulle was afkomstig uit die streek Angeln in die huidige Duitse deelstaat Sleeswyk-Holstein.[7] Die vroegste bekende geruik van die term as "Engla londe" was in die laat 9de-eeuse vertaling van Bede se Historia ecclesiastica gentis Anglorum in Ou Engels. Die term is destyds gebruik om na "die land wat deur Engelse bewoon is" te verwys en dit het Engelse ingesluit wat hulle gevestig het in die huidige suidooste van Skotland, destyds deel van die Engelse koninkryk Northumbria. Volgens die Angel-Saksiese Kroniek het die Domesday Book van 1086 die hele Engeland gedek, dus die Engelse Koninkryk, maar enkele jare later noem die Chronicle dat koning Malcolm III "uit Scotlande na Lothian in Englaland" gegaan en dus die meer antieke betekenis gebruik het.[8]
Die vroegste bekende verwysing na die Angele was in die 1ste-eeuse werk Germania deur Tacitus, waarin hy die Latynse woord Anglii gebruik het.[9] Die etimologie van die stamnaam self word deur geleerdes betwis; daar is voorgestel dat dit van die Angeln-skiereiland se vorm afkomstig is, 'n angular (hoekige) vorm.[10] Hoe en hoekom 'n term afgelei is van die naam van 'n stam wat minder betekenisvol was as ander, byvoorbeeld die Saksers, en hoe dit die naam van 'n hele land geword het, is onbekend, maar dit blyk dat dit verband hou met die gebruik om die Germaanse mense in Brittanje Angli Saxones of Engelse Saksers te noem om hulle te onderskei van die vastelandse Saksers (Eald-Seaxe) van Ou Sakse in Duitsland.[11] In Skots-Gaelies is die woord vir Engeland (Sasunn) afgelei van die Saksers;[12] op 'n soortgelyke manier het die Walliese naam vir die Engelse taal Saesneg ontstaan. 'n Romantiese naam vir Engeland is Loegria wat verwant is aan die Walliese woord vir Engeland, Lloegr, en bekendheid verwerf het deur die Arthurlegende. Albion is ook 'n poëtiese manier om na Engeland te verwys,[13] hoewel dit oorspronklik die hele eiland Groot-Brittanje bedoel het.
Sport



Engeland het 'n ryk sporterfenis en baie sportsoorte wat wêreldwyd beoefen word, het in die 19de-eeuse Engeland ontstaan, waaronder sokker, krieket, rugby, rugbyliga, tennis, boks, pluimbal, muurbal, hokkie, snoeker, biljart, veerpyltjies, tafeltennis, rolbal, netbal, perdewedren, windhondrenne en jakkalsjag. Die land het ook gehelp met die ontwikkeling van gholf, seil en Formule Eenrenne.
Sokker is die gewildste van hierdie sportsoorte in Engeland. Die Engelse nasionale sokkerspan, met sy tuiste op Wembley-stadion is, het in 1872 die eerste sokkerwedstryd ooit teen Skotland gespeel.[14] Die wedstryd het in Hamilton Crescent, Glasgow, die tuiste van die West of Scotland Cricket Club, plaasgevind. Engeland het as "tuiste van sokker" die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1966 aangebied en tydens die eindstryd Wes-Duitsland met 4–2 geklop.[15] Met 'n Britse televisie gehoorpiek van 32,30 miljoen is die eindstryd die mees gesiene televisie-gebeurtenis ooit in die Verenigde Koninkryk.[16] Tydens die UEFA Europa-beker 2020 het Engeland vir die eerste keer die eindstryd gehaal, maar hulle is deur Italië met 3–2 ná strafskoppe verslaan. In 2024 het hulle weer na die eindstryd deurgedring, maar hulle het dié keer met 2–1 teen Spanje vasgeval. Engeland se hoogste sokkerliga is die Premier League, gevolg deur die Football League Championship.
Daar word algemeen aanvaar dat krieket in die vroeë Middeleeue as 'n wedstryd tussen die landbou- en metaalbewerkingsgemeenskappe van die Weald ontstaan het. Die Engelse nasionale krieketspan is 'n samestelling van Engelse en Walliese krieketspelers en een van die toetskrieketlande en volle lidland van die Internasionale Krieketraad. Een van dié sport se oudste en gewildste wedywering is Die As-reeks tussen Engeland en Australië wat sedert 1882 gespeel word. Engeland het al vyf krieketwêreldbekertoernooie (in 1975, 1979,