Duitsland
Duitsland (Duits: Deutschland, [ˈdɔʏtʃlant], ), amptelik die Bondsrepubliek Duitsland (in Afrikaans dikwels ook Federale Republiek Duitsland genoem; Duits: Bundesrepublik Deutschland, [ˈbundəsʁepuˌbliːk ˈdɔjtʃlant], ), is in die sentrum van Europa geleë en vervul in baie opsigte 'n brugfunksie tussen Wes-Europa en die lande van Sentraal- en Oos-Europa.

Die land word in die noorde begrens deur die Noordsee, Denemarke en die Oossee, in die ooste deur Pole en Tsjeggië, in die suide deur Oostenryk en Switserland, en in die weste deur Frankryk, Luxemburg, België en Nederland. Geen ander land in die Europese Unie het meer buurlande as Duitsland nie.[11]
As 'n geografies uiteenlopende land het Duitsland 'n groot verskeidenheid landskappe wat van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee en die uitgestrekte vlaktes van Noord-Duitsland oor die berglandskappe van Sentraal- en Suid-Duitsland tot die Alpe in die uiterste suide strek. Vyf groot rivierstelsels – dié van Ryn, Donau, Elbe, Main en Weser – kom in die land voor en word deur kanale met mekaar en die Europese netwerk van waterweë verbind.
Die Duitse Keiserryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Duitse Oorlog in 1871. Die huidige Duitsland is 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek wat uit 16 deelstate bestaan. Die deelstate kan in sekere sfere, soos onderwys, onafhanklik van die federasie optree. Duitsland is, net soos baie ander Europese lande, 'n sosiale welvaartstaat, wat in sy binnelandse ekonomiese beleid die beginsels van 'n sosiale markekonomie toepas, en ook een van die liberalste lande ter wêreld waar groot waarde aan omgewingsbewaring en die bestryding van xenofobie geheg word.
Nogtans weeg behoudende waardes steeds swaar in Duitsland wat vanweë sy ryk kulturele, filosofiese en literêre erfenis ook as die "land van digters en denkers" bekendstaan. Ou tradisies word met trots bewaar en gewaardeer, net soos harde werk, juistheid en fiskale verantwoordelikheid.[12]
Die Bondsrepubliek Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies, asook 'n stigterslid van die Europese Unie. Duitsland, wat sedert die 1990's meer as drie miljoen immigrante uit Oos-Europa ontvang het, het tans die grootste bevolking van enige EU-lidstaat. As een van die wêreld se voorste nywerheidslande, wat hom op meganiese ingenieurswese en masjienbou, voertuie, chemiese produkte en huishoudelike goedere toespits, is Duitsland die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ter wêreld. Sy ekonomiese en politieke gewig stel die land in staat om sy beleid van fiskale soberheid ook op Europese vlak toe te pas.
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die Duitse term Deutschland, oorspronklik diutisciu land ("die Duitse lande") is ontleen aan deutsch (vergelyk Dutch), afgelei van die Ou Hoogduitse diutisc, "van die volk" (van diot of diota, "volk"), wat oorspronklik gebruik is om die taal van die gemeensame volk van Latyn en sy Romaanse nasate te onderskei. Dit is op sy beurt ontleen aan die Protogermaanse þiudiskaz, "van die volk" (sien ook die Latinisering Theodiscus), ontleen aan þeudō, met sy oorsprong in die Proto-Indo-Europese *tewtéh₂- "volk", waarvan die woord Teutone ook afgelei is.[13][14]
Geografie
[wysig | wysig bron]




Duitsland strek van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee tot by die Sentraal-Alpe in die suide (waarvan egter net 'n klein gedeelte op Duitse grondgebied lê). In noord-suidelike rigting strek die Duitse staatsgebied oor 'n afstand van 876 km, in wes-oostelike rigting oor 640 km. Die land word dikwels as die hartland van Europa beskryf en grens aan nege buurlande: Denemarke in die noorde; Nederland, België, Luxemburg en Frankryk in die weste; Oostenryk en Switserland in die suide; en Pole en Tsjeggië in die ooste. Duitsland se internasionale grense loop oor 'n totale afstand van 3 786 km. Die langste gemeenskaplike grens is dié met Oostenryk wat oor 'n afstand van 817 km strek (die Bodenmeer is hierby nie ingereken nie).[15] Die Noord- en Oossee vorm 'n natuurlike grenslyn in die noorde.
In noord-suidelike rigting is daar vier groot geografiese landskappe, wat veral volgens hulle hoogte van mekaar verskil. Die noorde van Duitsland word oorheers deur die Noord-Duitse Vlakte, wat tydens die ystydperke gevorm is.
Die sentrale gedeelte van die land is gekenmerk deur beboste bergreekse, die sogenaamde Mittelgebirge ("Middelgebergtes"). Daar is verskillende tipes van landskappe, onder andere:
- die gebied van die Mecklenburgse Mere in die noordoostelike vlakte, wat deur gletserpuine gevorm is;
- die blokberge van die Harz, wat nog voor die Alpe ontstaan het;
- die beboste bergreekse van die Schwarzwald (Swartwoud) en Böhmerwald, wat net soos die Franse Vogese deur opwaartse geologiese bewegings gevorm is;
- bekkens van sedimentêre gesteentes soos in die Swabiese Alb (Schwäbische Alb), 'n hoogplato wat as gevolg van erosie gevorm is en nou bo-oor die Neckarvallei met 'n maksimale hoogte van 869 meter verrys;
- geologies jonge bekkens soos die vlaktes van die Ryn tussen die Switserse stad Basel en Mainz in Rynland-Palts, wat in seismiese opsig nog baie aktief is; en
- vulkaniese bergreekse soos die Vogelsberg (773 meter) in Hesse, die Vulkaan-Eifel in Rynland-Palts en die Hegau en Kaiserstuhl in Baden-Württemberg wat almal deur aardbewegings, vulkaniese aktiwiteite en uitbarstings gevorm is. Duitsland word lankal nie meer deur aktiewe vulkanisme geraak nie.
Aangesien Duitsland heeltemal op die Eurasiese Plaat lê, kom sterk aardbewings normaalweg nie voor nie. Nogtans word die Rynbreuk in Noordryn-Wesfale, veral in die omgewing van Keulen, as 'n gebied beskou waar 'n groot aardbewing moontlik tot ernstige rampe en lewensverlies kan lei.
Hierdie bergreekse gaan in die mees suidelike deelstate Baden-Württemberg en Beiere geleidelik oor na die Alpynse voetheuwels, 'n landskap wat ook hoofsaaklik teen die einde van die laaste ystydperk gevorm is en gekenmerk word deur gletserpuine, vlaktes en 'n aantal mere soos die Bodenmeer met 'n oppervlakte van 538 vierkante kilometer. Die hoogste bergpiek in die Alpe van Suid-Beiere is die Zugspitze met 2 962 meter.
Die Alpe is die enigste hooggebergte waaraan Duitsland 'n aandeel het. Nogtans is daar 'n aantal bergreekse met bergpieke wat hoogtes van meer as 1 000 meter bereik, soos die Swartwoud met die Feldberg (1 493 meter bo seevlak), die Beierse Woud met die Groot Arber (Großer Arber, 1 456 meter), die Ertsgebergte, die Fichtelgebergte, die Swabiese Gebergte en die Harzgebergte, wat danksy sy geïsoleerde noordelike ligging 'n uitsondering vorm. Die Harz bereik met die Brocken 'n hoogte van 1 142 meter bo seevlak.
Noord van die Middelgebergtes is daar net enkele formasies met 'n hoogte van meer as 100 meter, soos die Fläming in die deelstaat Brandenburg (200 meter).
Eilande
[wysig | wysig bron]
Duitsland beskik oor 'n relatief groot aantal eilande wat in die Noordsee meesal as eilandkettings net voor die kuslyn lê. Die twee groot eilandgroepe van die Noordsee is die Noord- en Oos-Friese Eilande. Die Noord-Friese Eilande, waaronder Sylt, Föhr, Amrum en Pellworm, asook die klein Halligen-eilandjies, maak deel uit van Sleeswyk-Holstein, die noordelikste deelstaat. Die eilande was oorspronklik deel van die vasteland, maar is as gevolg van geologiese aktiwiteite van die vasteland afgesny, nádat die gebiede daartussen gedaal het en oorvloed is.
Die Noord-Friese Eilande lê langs die kuslyn van die deelstaat Nedersakse en is geleidelik uit sandbanke gevorm.
Die eilande in die Oossee maak deel uit van die sogenaamde strandmeerkus. Hulle word deur groter oppervlaktes gekenmerk; die grootstes van hierdie eilande is Rügen en Usedom. Die uiterste oostelike deel van Usedom behoort tot Pole.
Die grootste eilande in die binneland is die "blomme-eiland" Mainau, Lindau en die kloostereiland Reichenau in die Bodenmeer en Herrenchiemsee in die Chiemmeer.
Mere
[wysig | wysig bron]
Die mere in Duitsland is grotendeels as gevolg van die laaste ystydperk gevorm, toe voormalige gletservalleie met water opgevul is. Die meeste van die groter mere is dus in gebiede geleë wat vroeër deur binnelandse ysmassa's bedek was, of in die voorland van die gletsers, veral in Mecklenburg en die Alpevoorland.
Die grootste meer waaraan Duitsland 'n aandeel het, is die Bodenmeer (Duits: Bodensee) naby die grens met Switserland en Oostenryk. Die grootste meer wat in sy geheel in Duitsland lê, is die Müritz met 'n oppervlak van 117 vierkante kilometer, wat deel uitmaak van die Mecklenburgse Mereplato.
Die grootste mere na die Bodenmeer en Müritz is die Chiemmeer (Beiere, 80 vierkante kilometer), die Schwerinse Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 61 vierkante kilometer), die Starnbergse Meer (Beiere, 56 vierkante kilometer), die Ammermeer (Beiere, 46,6 vierkante kilometer), die Plauer Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 38,7 vierkante kilometer), die Kummerowse Meer (Mecklenburg-Voorpommere, 32 vierkante kilometer), die Steinhuder Meer (Nedersakse, 29,12 vierkante kilometer), en die Groot Plönse Meer (Sleeswyk-Holstein, 29 vierkante kilometer).
Riviere
[wysig | wysig bron]
Die ses groot rivierstelsels van Duitsland is Ryn, Donau, Elbe, Oder, Weser en Eems. In hidrografiese opsig behoort die suide van Duitsland tot die Donau se dreineringsgebied – Europa se grootste rivier na die Russiese Wolga met 'n lengte van meer as 2 800 kilometer (waarvan 647 kilometer op Duitse staatsgebied) wat in die Swartsee uitmond. Groot dele van die Oos-Holsteinse Heuwel- en Mereland noord en noordoos van die Mecklenburgse Mereplato maak deel uit van die Oossee se hidrografiese gebied. Alle ander streke word deur die Ryn, Eems, Weser en Elbe gedreineer wat in die Noordsee uitmond.
Met 'n lengte van 865 km is die Ryn die langste rivier in Duitsland. Die Europese Waterskeiding loop oos van die Rynvallei oor die hoofkam van die Swartwoud en volg daarna die Swabiese en Frankiese Gebergtes. Van die Ryn se totale lengte van 1 320 kilometer loop 865 kilometer deur Duitsland. Die rivier speel 'n belangrike rol in die kulturele geskiedenis van die land en sy mites en legendes, maar vervul daarnaas ook 'n ekonomiese funksie as een van die besigste waterweë in Europa.
Die Elbe ontspring in die Reusegebergte, digby die Pools-Tsjeggiese grens en mond na sowat 1 165 kilometer, waarvan 725 in Duitsland, naby die hawestad Cuxhaven in die Noordsee. Sy belangrikste takriviere is die Saale en die Havel. Die Oder vorm saam met die Neisse Duitsland se grensrivier met Pole, terwyl die Weser se stroomgebied heeltemal in Duitsland lê. Die Eemsrivier vloei deur die uiterste noordweste van Duitsland.
Klimaat
[wysig | wysig bron]
Die grootste deel van Duitsland lê in die gematigde klimaatsone van Sentraal-Europa wat deur westelike winde oorheers en deur wisselvallige weerstoestande gekenmerk word. Die westelike winde, wat vanuit die Atlantiese Oseaan oor Duitsland waai, bring dwarsdeur die jaar reën. Die jaarlikse reënval beloop tussen minder as 500 tot 700 mm in die Noord-Duitse Vlakte, tussen 700 en meer as 1 500 mm in die Middelgebergtes en tot meer as 2 000 mm in die Alpe. Die klimaat word daarnaas ook deur die warm Golfstroom beïnvloed.
Die noordweste en noorde van Duitsland word deur 'n seeklimaat met reënval dwarsdeur die jaar gekenmerk. Die winters is relatief sag en matig, terwyl die somers eerder koel is, alhoewel somertemperature ook in die noorde soms dae lank bo 28 °C kan styg. Die gemiddelde temperature is: Hamburg: Januarie – 0,3 °C / Julie – 17,1 °C; Essen: Januarie – 1,5 °C / Julie – 17,5 °C.
Oos-Duitsland is in klimatiese opsig 'n oorgangsgebied: weerstoestande het dikwels kenmerke van 'n vastelandsklimaat, met strawwe koue winters en baie warm somers. Gebiede soos die deelstaat Brandenburg en Berlyn kry soms baie min reën in die somer. Die gemiddelde temperature is: Berlyn: Januarie – -0,9 °C / Julie – 18,6 °C. Die sentrale en suidelike gebiede van Duitsland is 'n oorgangsgebied van 'n gematigde seeklimaat na 'n vastelandsklimaat. Die Rynvallei is egter een van die warmste gebiede in die land: die gemiddelde jaarlikse temperatuur in die suidweste van Baden-Württemberg is 11 °C. Baie warm somers met temperature van meer as 30 °C tree gereeld op. Gemiddelde temperature: München: Januarie – -2,2 °C / Julie – 17,6 °C; Freiburg: Januarie – 1,2 °C / Julie – 19,4 °C.
Tot en met 1988 was die gemiddelde jaarlikse temperatuur in Duitsland 8,8 °C. As gevolg van die aardverwarming het dit in die volgende dekades merkbaar gestyg en in 2000 reeds 9,9 °C bereik. Veral die somers het warmer geword. Die hoogste temperatuur, wat sedert 1881 – die jaar waarin met landswye weerkundige metings begin is – aangeteken is, was 40,3 °C op 5 Julie 2015 in Kitzingen, Beiere.[16]
Politiek
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Politiek van Duitsland.
Staatsorganisasie
[wysig | wysig bron]



Volgens die artikel 20 van die Duitse Grondwet (Grundgesetz) is die Bondsrepubliek Duitsland 'n demokratiese, federale en sosiale regstaat. Sy hoofstad en regeringsetel is Berlyn. Duitsland is in administratiewe opsig verdeel in 16 deelstate (Bundesländer), wat gedeeltelik selfregerend is. Vyf van die deelstate is verder verdeel in 22 administratiewe distrikte (Regierungsbezirke).
Die Bondspresident (Bundespräsident) fungeer as die staatshoof en verteenwoordiger van die republiek op internasionale vlak. Hy oefen egter geen politieke mag uit nie. Die president van die parlement (Bundestagspräsident), die Bondskanselier (Bundeskanzler) en die president van die Federale Raad van die deelstate (Bundesratspräsident, wat ook as visestaatshoof fungeer) volg as ampsdraers in die rangorde.
Die Bondskanselier is die regeringshoof en bepaal die grondbeginsels van die regering se binne- en buitelandse beleid.
In ooreenstemming met die federale staatsbestel beskik ook die deelstate oor hulle eie uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag. Die Bundesrat (Raad van die Deelstate, letterlik "Bondsraad") het net soos die Bundestag, die nasionale parlement, uitvoerende bevoegdhede. Besluite oor voorgestelde nasionale wetgewing word deur albei kamers gemeenskaplik geneem. Wetsontwerpe van die nasionale parlement wat die regte van die deelstate sou raak, moet deur die Bundesrat goedgekeur word. Die Duitse Grondwet mag, met die uitsondering van die artikels oor fundamentele menseregte, met 'n tweederdes-meerderheid in albei kamers gewysig word.
Die parlemente van die deelstate besluit oor die plaaslike wetgewing: die onderwys, polisie en ander belangrike instellings word deur die deelstate beheer. Die politieke partye het 'n groot invloed op die wetgewing, en ofskoon die afgevaardigdes nie gedwing mag word om teen hulle gewetens op te tree nie, word die meeste wetsontwerpe deur die parlementslede van die meerderheidsparty gemeenskaplik goedgekeur om die doelwitte van dié party te verwesenlik.
Op nasionale vlak vorm die federale regering onder die leiding van die Bondskanselier die uitvoerende gesag, terwyl die deelstate regerings onder die leiding van 'n eerste minister het. Die stadstate Berlyn, Hamburg en Bremen het Regerende Burgemeesters as hulle regeringshoofde. Die administrasies van die deelstate word deur ministers beheer.
Die Konstitusionele Hof (Bundesverfassungsgericht) in Karlsruhe het die hoogste gesag oor die grondwet. Die hoogste nasionale geregshowe is die Federale Geregshof (Bundesgerichtshof) in Karlsruhe en Leipzig, die Federale Administratiewe Gereg (Bundesverwaltungsgericht, wat regsake in verband met die administrasies hanteer) in Leipzig en die Geregshof van Finansies in München. Die meeste regsake word deur die deelstate beheer, terwyl die nasionale geregshowe as appélhowe dien.
Deelstate
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Deelstate van Duitsland.

| In Afrikaans | Auf Deutsch (In Duits) | |||
|---|---|---|---|---|
| Die deelstate van Duitsland | Hoofstad | Bundesland | Hauptstadt | |
| 1 | Baden-Württemberg | Stuttgart | Baden-Württemberg | Stuttgart |
| 2 | (Vrystaat) Beiere | München | (Freistaat) Bayern | München |
| 3 | Berlyn | Berlyn | Berlin | Berlin |
| 4 | Brandenburg | Potsdam | Brandenburg | Potsdam |
| 5 | (Vrye Hansestad) Bremen | Bremen | (Freie Hansestadt) Bremen | Bremen |
| 6 | (Vrye en Hansestad) Hamburg | Hamburg | (Freie und Hansestadt) Hamburg | Hamburg |
| 7 | Hesse | Wiesbaden | Hessen | Wiesbaden |
| 8 | Mecklenburg- Voorpommere | Schwerin | Mecklenburg- Vorpommern | Schwerin |
| 9 | Nedersakse | Hannover | Niedersachsen | Hannover |
| 10 | Noordryn-Wesfale | Düsseldorf | Nordrhein-Westfalen | Düsseldorf |
| 11 | Rynland-Palts | Mainz | Rheinland-Pfalz | Mainz |
| 12 | Saarland | Saarbrücken | Saarland | Saarbrücken |
| 13 | (Vrystaat) Sakse | Dresden | (Freistaat) Sachsen | Dresden |
| 14 | Sakse-Anhalt | Maagdenburg | Sachsen-Anhalt | Magdeburg |
| 15 | Sleeswyk-Holstein | Kiel | Schleswig-Holstein | Kiel |
| 16 | (Vrystaat) Thüringen | Erfurt | (Freistaat) Thüringen | Erfurt |
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]Vroeë geskiedenis
[wysig | wysig bron]
Die oudste nedersettings in die gebied van die huidige Duitsland het 700 000 tot 500 000 jare gelede ontstaan. Die Homo sapiens neanderthalensis, wat nou verwant is aan die huidige mens, is na die Neanderthal naby die stad Mettmann genoem. Die Neanderthal-mense is sowat 40 000 jare gelede deur die huidige mens, die Homo sapiens sapiens, verdring.
Akkerbou, veeteelt en permanente nedersettings het in die Laat Steentydperk ontwikkel. Belangrike argeologiese vondse uit hierdie periode, soos die Hemelskyf van Nebra, dui daarop dat die beskawings teen hierdie tyd kultureel al hoogs ontwikkel was en kennis van sterrekunde gehad het.
Die eerste verwysings na die Keltiese en Germaanse stamme in Duitsland is van Griekse en Romeinse oorsprong. Omtrent 500 v.C. het Keltiese stamme die suidelike Duitsland oorheers, terwyl die Germane hulle in die noorde gevestig het. Oor die eeue heen het die Germaanse stamme suidwaarts begin trek. In die 1ste eeu n.C. het die Germane al die Donau bereik, wat destyds die grenslyn tussen die Germaanse en Keltiese gebiede gevorm het. Keltiese leenwoorde en plekname is deur die Germane oorgeneem.
Romeinse tydperk
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Romeinse Ryk.


Vanaf 50 v.C. het die Romeine na Germanië begin kom. Julius Caesar (100–44 v.C.) het met sy soldate die gebied wes van die Ryn verower. Vanaf hierdie punt in die geskiedenis is die gebied wat vandag Duitsland heet vir 400 jare in twee gedeel: die weste was deel van die magtige Romeinse Ryk, en die ander kant van die Ryn is deur die "Barbare" geregeer — soos die Romeine die destydse Germaanse stamme genoem het.[17]
Germaanse krygers onder die bevel van die Cheruskiese stamhoof Arminius laat die Romeinse troepe van die legaat Publius Quinctilius Varus in 9 n.C. 'n verpletterende neerlaag in die slag by die Teutoburgerwoud (wat eintlik naby Kalkriese plaasgevind het) ly. Die Romeinse keiser Augustus Octavianus sien van sy planne af om die noordoostelike grenslyn van die Romeinse Ryk vanuit die Ryn na die Elbe te verskuif.
In die Romeinse gebiede van Germanië ontwikkel 'n bloeiende Germaans-Romaanse kultuur. Stede soos Keulen (wat destyds as Colonia Claudia Ara Agrippinensium bekend staan) ontwikkel tot ekonomiese sentrums met enkele tienduisend inwoners. Keulen self word die hoofkwartier van die Romeinse glasbedryf in Laer-Germanië.
Augusta Treverorum, die huidige Trier, word in 293 die keiserlike hoofkwartier van Constantius Chlorus, een van die vier keisers van die Romeinse tetrargie. Tot by die begin van die Germaanse volksverhuising bly Trier een van die belangrikste keiserlike stede in die Romeinse Ryk.
Omtrent 400 bereik die volksverhuising die gebied van die huidige Duitsland. Keulen word in 455 deur die Franke verower en word later deel van die Frankiese Ryk van koning Clovis I. Met sy doop volgens die Rooms-Katolieke ritus en die aanvaarding van Latyn as liturgiese taal van die kerk word Clovis in 499 een van die grondleggers van die Christelike Westerse beskawing.
Etnogenese: die ingewikkelde proses van volkswording
[wysig | wysig bron]


Die 19de eeuse Duitse geskiedskrywing het 'n eensydige beeld van die vroeë Duitse volkswording voorgehou waarvolgens groot dele van die Romeinse Ryk deur Germaanse stamme verower is wat later die Frankiese Ryk sou stig. In 843 is daardie ryk in 'n Frans- en 'n Duitssprekende deel (Frankryk en Duitsland) verdeel, en voortaan het die Duitse nasie as 'n volk van Germaanse afkoms bestaan. Min aandag is aan die feit geskenk dat 'n groot persentasie Duitssprekendes in werklikheid van Romaanse, Keltiese en Slawiese afkoms is.[18] Terwyl volgens genetiese ontledings sowat 50 persent van Duitsers aan moederskant van Germaanse herkoms is, het 45 persent van alle manlike Duitsers Keltiese voorvaders.[19]
Dikwels is die oorspronklik Keltiese bevolking van Suid- en Wes-Duitsland, wat nou verwant aan die Galliërs was en handels- en kulturele bande met die Etruskers in Italië gehandhaaf het, die Romaanse bevolking in die vroeëre Romeinse provinsies van Duitsland en die Slawiërs, wat gebiede oos van die Elberivier en in Bo- en Sentraal-Franke bewoon het, as deel van 'n gemeenskaplike "Indo-Europese beskawing" beskou. Die Britse rassis Houston Stewart Chamberlain (1855–1927), wat met sy werke ook aanklank by Duitse Nasionaalsosialiste gevind het, het na die "Slawokeltogermane" as die "oerstof" van die Europese geskiedenis verwys.[20]
Die Nasionaalsosialistiese propaganda het 'n nuwe rassistiese mite geskep waarin "Germanedom" en "Duitsdom", die Germaanse en die Duitse volkskarakter as een en dieselfde ding beskryf is. Slawiese volke is as minderwaardig geag en hul bydrae tot die Duitse beskawing ontken. Sodoende het die Nasionaalsosialistiese bewindhebbers volksmoord en die verowering van Slawiese lande in Oos-Europa probeer regverdig. Duitssprekendes in die ooste van Europa moes uiteindelik in 1945 duur betaal vir dié onmenslike rasse-ideologie en is self uit hul geboortelande verdryf.
Geskiedkundiges en argeoloë het lankal die bewys gelewer dat die hipotese van 'n Germaans-Duitse kontinuïteit 'n moderne konstruksie is wat min ooreenstemming met historiese feite toon. Die vroeg-middeleeuse koninkryke, wat ná die val van die Wes-Romeinse keiserdom deur Franke, Oos- en Wes-Gote, Alamanne, Beiers en Thüringers gestig is, kan nòg volgens hul eie beskouing en waarneming nòg vanuit 'n historiese perspektief as "Duits" bestempel word nie. Hierdie verskillende stamme het hulself ook nie as deel van 'n groter volk beskou nie. Eers in die 19de eeu het Martin Luther se Bybelvertaling met sy verwysing na die "Twaalf stamme van die kinders van Israel" die aanleiding vir die herdefinisie van 'n stam as deel van 'n groter nasie gegee. As politieke term is die "Duitse volk" in analogie met die Franse konsep van 'n Peuple français ("Franse volk") en die Nation française ("Franse nasie") tydens die Franse Rewolusie gebruik.[21]
Die sambreelterm "Duitsers" dateer nogtans uit 'n vroeë historiese periode. Die Oudhoogduitse diot as etimologiese wortel van "Duits" is in die betekenis van "volk" of "gewone mense" gebruik. Diet- of Diot-paaie was byvoorbeeld die roetes wat deur 'n plaaslike bevolking op pad na kerke, begraafplase of algemene vergaderings gebruik is. Die Keltiese teut het dieselfde etimologiese oorsprong en betekenis. Die Teutone, wat deur die Romeine in 113 v.C. as 'n skrikwekkende bedreiging ervaar is, is volgens die Gallies-Keltiese term vir 'n groter groep mense genoem.
Vanaf die middeleeue is 'n onderskeiding tussen die volkstaal of lingua theodisca en die taal van geleerdes, Latyn, gemaak. Die oudste historiese dokument, waarin theodiscus voorkom, dateer van 786 en verwys na Engeland en die Engelse taal. In die Frankiese Ryk was die theodisca lingua die algemene verkeerstaal in Wes- en Bo-Franke wat onder meer vir onderhandelinge gebruik is. Karel die Grote se kleinseuns, Lodewyk en Karel, het hul politieke alliansie teen hul broer Lothar in hul plegtige "Straatsburgse Ede" amptelik in albei tale gesluit – Romaans of Latyn (Romana lingua) en Duits (Teudisca lingua) – sodat ook die gewone soldate in hul leërs die inhoud en doelwit van die ooreenkoms kon verstaan.
Ook in die 9de eeu was daar blykbaar nog geen sambreelterm vir die verskillende stamme nie. Biskop Frechulf van Lisieux († omstreeks 850) het in 'n dokument, wat omstreeks 830 geskryf is, na Franke en Gote as nationes Theodiscae verwys – stamme wat die (nie-Latynse) volkstaal gebesig het. Die Romeinse sambreelterm Germani, soos gebruik deur Caesar en Tacitus, is nie gebruik om na hierdie etniese groepe te verwys nie.
Die eerste belangrike etniese onderskeiding was dié tussen bewoners aan die linker- en die regteroewer van die Ryn nadat die Frankiese Ryk in 843 in 'n westelike en 'n oostelike ryk verdeel is. Bewoners van die Oos-Frankiese Ryk is Transrhenenses genoem – "mense van anderkant die Ryn". In Italië is 'n onderskeiding gemaak tussen inheemses en Teutisci, die Langobarde wat 'n Germaanse dialek of theodisca lingua gepraat het. Vanaf die 10de eeu is in Italië na Germaanssprekendes naas Teutonici ook as Saxones of Saksers verwys – blykbaar omdat die Ottoniese konings en hul begeleiers uit Sakse afkomstig was.
Opvallend genoeg was daar ook in die vroeë middeleeue nog geen gevoel van etniese samehorigheid nie en is etniese terme uit die buiteland, die Romaanse wêreld, oorgeneem. Die taalgrens tussen Noord- of Platduitse dialekte en Hoogduits in die suide kon moontlik tot 'n kulturele en selfs nasionale grens ontwikkel het. Dit was Karel die Grote wat die verskillende onafhanklike Germaanse stamme in 'n gemeenskaplike ryk verenig het – dikwels met geweld, soos in die geval van die Saksers – en sodoende die politieke basis vir die 10de eeuse koninkryk geskep het waarin ses stamme – Alamanne, Beiers, Friese, Franke, Saksers en Thüringers – saamgesluit het. 'n Nasionale identiteit het eers later gaandeweg ontwikkel. Die beginpunt van hierdie proses was die bedreiging deur Hongaarse aanvalle wat net deur 'n gemeenskaplike poging van alle stamhertogdomme afgeweer kon word.
So was die Italianers eeue lank die enigstes wat van "Duitsers" gepraat het. Dit is 'n bewys vir die destyds oorheersende kulturele invloed van die Romaanse wêreld dat die "Duitsers" uiteindelik hierdie Italiaanse term as leenwoord oorgeneem het om na hulself te verwys. Die werklike etnogenese van die Duitse volk, die volkswording, het egter nie voor die 19de eeu plaasgevind nie. In die eeue voor die ontwaking van 'n nasionale Duitse bewussyn het die bewoners van die oorspronklike stamhertogdomme gaandeweg hul eie streeksgebonde identiteit ontwikkel. So was ook die Duitse Keiserryk, wat in 1871 formeel geproklameer is, volgens sy grondwet 'n federasie van Duitse koninkryke, hertogdomme en ander politieke entiteite onder die bewind van 'n gemeenskaplike keiser.
Middeleeue
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Heilige Romeinse Ryk.
Politieke raamwerk
[wysig | wysig bron]
Vir die grootste deel van sy geskiedenis was Duitsland geen eenheidstaat nie, maar 'n losse verbond van territoriale state binne die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie. Die term "Duits" was eers vanaf die 8ste eeu gebruiklik en het na die volkstaal verwys wat in die oostelike deel van die Frankiese Ryk gebesig is – in teenstelling met Latyn, die taal van geleerdes. Ná die afsterwe van Karel die Grote in 814 langs die taalgrens tussen vroeë Middeleeuse Frans en Oudhoogduits uitmekaargebreek. 'n Gevoel van samehorigheid is in die oostelike gebiede langsamerhand geskep met taal as die verenigende band – na die gebied, waar Duits as omgangstaal gebesig is, is algemeen verwys as "Duitsland". Grense kon nie maklik vasgestel word nie. Terwyl die Romaans-Germaanse taalgrens in die weste al vroeg begin stabiliseer het, het die migrasie van Duitssprekende setlaars na gebiede in die ooste eers in die 14de eeu tot stilstand gekom. In baie streke het Duits- en Slawiessprekendes vermeng of eeue lank naas mekaar geleef.
Retrospektief word die ampsaanvaarding van Konrad I as koning in 911 as die oorgangspunt van die Oos-Frankiese na 'n Duitse ryk of regnum Teutonicum beskou. Nogtans was Konrad se amptelike titel, analoog met sy herkoms, aanvanklik "Frankiese koning" en later "Romeinse koning". Die ryk is vanaf die 11de eeu "Romeinse Ryk" genoem, sedert die 13de eeu "Heilige Romeinse Ryk", en eers vanaf die 15de eeu was die verwysing na 'n "Duitse nasie" gebruiklik. Die koning in hierdie ryk is deur die hoë adel verkies. Met enkele uitsonderings was die meeste monarge verwant met hul voorgangers. 'n Verdere kenmerk was die mobiliteit van ryk en koning – in die Middeleeue was daar nog geen enkele Duitse hoofstad nie. 'n Algemene ryksbelasting was eweneens onbekend; in plaas daarvan het sogenaamde "Ryksgoedere" – landerye, geboue, finansiële regte en die politieke gesag wat daaraan verbonde was – 'n inkomste aan die koning verskaf. Die koning is deur sy onderdane beskou as 'n heerser wat gebonde was aan oorgelewerde volkswette en die toestemming van hoë adellikes. Sy bevoegdhede het wetgewing, belasting, regspraak, militêre opperbevel en kerklike gesag ingesluit. Daarnaas het die koning in hoogste instansie oor regtelike en politieke geskille beslis. Met die sogenaamde Goue Bul het keiser Karel IV in 1356 die belangrikste Duitse grondwet van die Middeleeue verkondig waarin die prosedures vir die verkiesing en bekroning van die keisers van die Heilige Romeinse Ryk vasgestel is en wat sy geldigheid eers met die ontbinding van die Ryk in 1806 verloor het.
Koning Otto I het homself in 962 in Rome tot keiser laat kroon. Aan die keiserlike gesag, wat ook deur sy opvolgers uitgeoefen is, was volgens die destydse ideaal die hele Awendland onderworpe. Die politieke werklikheid het anders gelyk. Omrede konings vir hul kroning as keisers na Rome moes reis, het hulle steeds pogings onderneem om oor Italië te heers. Hendrik IV was die eerste koning wat homself – ná 'n dispuut oor die benoeming van biskoppe (die sogenaamde Investituurstryd) – aan die pous in Rome se gesag moes onderwerp – met merkwaardige simboliek. In 1077 het Hendrik kaalvoet in die sneeu by Canossa voor pous Gregorius VII boete gedoen. As politieke rolspelers is pous en koning vervolgens op dieselfde voet geplaas.
Ondanks alle formele gesag het tydens die heerskappy van die volgende heerserdinastie, die Staufers, 'n proses van territoriale opsplitsing begin waartydens geestelike en wêreldlike vorste hul politieke status tot dié van half-outonome landshere kon verhef. Terwyl ander lande in Wes-Europa tot nasionale state met sentralistiese gesag begin ontwikkel het, was in Duitsland uiteenlopende politieke kragte werksaam. So kon 'n Duitse eenheidstaat eers eeue later, in 1871, tot stand kom.[22]
Klimatologiese, ekonomiese en demografiese konteks
[wysig | wysig bron]Tegnologiese vooruitgang in die Europese landbousektor het gepaard gegaan met gunstige klimatiese invloedfaktore. Die Middeleeuse Warmperiode of Klimaatoptimum het danksy stygende temperature opbrengste verder vergroot en die gehalte van oeste verbeter. 'n Lang tydperk van bevolkingsgroei het die uitbreiding van bewoonde gebiede en die stigting van nuwe nedersettings noodsaaklik gemaak.
Boerderybedrywighede rondom bestaande nedersettings is uitgebrei. So is bosgebiede in landbougrond omgeskep en moerasse drooggelê. Die grootskaalse kolonisasie van streke in Oos-Europa deur Duitse setlaars, waartydens nuwe nedersettings in Slawiese gebiede oos van die Elberivier gestig is, val in hierdie fase. Heersers het stede toenemend as 'n belangrike bron van inkomste beskou en vanaf die vroeë 12de eeu aktief bygedra tot die stigting van nuwe nedersettings waaraan besondere voorregte toegeken is.[23]
Reformasie en Dertigjarige Oorlog
[wysig | wysig bron]
Onder die heerskappy van Maksimiliaan I, wat tussen 1509 en 1519 as keiser van die Heilige Romeinse Ryk regeer, begin die Huis Habsburg 'n oorheersende politieke rol in Europa speel. Alhoewel Maksimiliaan dikwels "die laaste ridder" genoem word, stel die hoogs opgeleide keiser belang in wetenskap en kuns en staan onder die invloed van die humanisme en renaissance. Nogtans bly die politieke strukture van die Ryk ingewikkeld.
Die Augustynse monnik Martin Luther, wat sedert 1517 net die wantoestande in die Rooms-Katolieke Kerk wil keer, maak deur middel van nuwe media soos pamflette en gedrukte boeke sy oortuigings in die hele land bekend. Uiteindelik lui hy die reformasie in Duitsland in. Hy vertaal die Bybel in Duits en skep sodoende 'n Duitse standaardtaal op basis van die Middelduitse dialekte.
Die politieke en godsdienstige spannings in Duitsland ontvlam in 1618 in die Dertigjarige Oorlog. Duitsland word die slagveld van die Europese moondhede soos Frankryk en Swede, wat aan die kant van die Duitse Protestantse heersers teen die keiserlike Katoliek-gesinde magte optree. Die oorlogshandelinge en daarmee gepaardgaande gruweldade en hongersnode lei tot 'n ongekende verlies aan menselewens. Meer as een derde van die Duitse bevolking sterf in die oorlog, wat eers in 1648 met die Vredesluiting van Münster tot 'n einde kom.
Tydperk tot die Franse Rewolusie
[wysig | wysig bron]
Die Franse koning Lodewyk XIV maak in 1685 namens sy skoonsuster Elisabeth Charlotte van die Palts aanspraak op die gebied Palts, 'n welvarende streek langs die Ryn, met die stad Heidelberg as een van sy sentrums. In die Negejarige Oorlog, wat as gevolg uitbreek, word die gebied, een van die welvarendste in Duitsland, verwoes.
Ondanks die verwoestings, wat deur die Dertigjarige Oorlog, die Negejarige Oorlog en die Spaanse Opvolgingsoorlog in Duitsland aangerig is, herstel die ryk en belef 'n nuwe ekonomiese en kulturele bloeitydperk. Op politieke gebied kan daar egter geen sprake van vernuwing wees nie.
Ook Pruise, wat tot een van die belangrikste deelstate van die Heilige Romeinse Ryk ontwikkel, bly onder sy verligte, maar outeritêre koning Frederik die Grote (1740 tot 1786) 'n absolutistiese monargie. Die magsstryd tussen Pruise en Oostenryk begin die Heilige Romeinse Ryk heeltemal verlam.
Tydperk tussen 1789 en 1871
[wysig | wysig bron]
Ná die Franse Rewolusie van 1789 begin Frankryk onder die heerskappy van Napoleon Bonaparte sy magsgebied in Europa uitbrei. Onder die Franse invloed word die Heilige Romeinse Ryk in 1806 ontbind, terwyl Pruise danksy politieke hervormings tot 'n moderne staat ontwikkel. In die Duitse Bevrydingsoorloë ly Napoleon 'n nederlaag, maar die vereniging van die verskillende Duitse state misluk.
Omtrent 1830 neem die industrialisering van Duitsland 'n aanvang. Die verarming van talle werkers as gevolg van die toenemende meganisering van verskillende bedrywe en herhaalde misoeste lei tot politieke onluste. Nadat die owerhede onder meer in Pruise nie instem tot hervormings nie, breek in Maart 1848 opstande uit wat talle menselewens eis. Die Duitse vorste verset hulle egter teen die burgerlike rewolusie en die konstitusionele grondwet wat deur liberale voorgestel word, kom nie tot stand nie. Gedurende die vyftigerjare emigreer baie Duitsers na oorsese lande, veral na die Verenigde State.
Desondanks ontwikkel die Duitstalige Sentraal-Europa danksy sy gevorderde ekonomie en tegnologieë tot een van die belangrikste gebiede ter wêreld. Onder die indruk van die maatskaplike ellende skryf Karl Marx sy "Kritiek op die politieke ekonomie". In Pruise gebruik die kanselier Otto von Bismarck internasionale spannings om Pruise se politieke hegemonie in Duitsland te bevorder.
Duitse Keiserryk (1871–1918)
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikels vir hierdie afdeling is: Unifikasie van Duitsland, Duitse Keiserryk en Eerste Wêreldoorlog.


Franse provokasies gee die aanleiding tot die Frans-Duitse Oorlog in 1870. Ná die Franse nederlaag gryp Bismarck die kans om 'n Duitse keiserryk onder die heerskappy van Pruise se koning Wilhelm I te stig. Die skadevergoeding wat Frankryk moet betaal, bevorder die ekonomiese oplewing in Duitsland. Die binnelandse beleid word deur die stryd teen die invloed van die Rooms-Katolieke Kerk en die Sosiaal-Demokratiese Party gekenmerk. In die magstryd met ander Europese lande besluit Duitsland om sy eie koloniale ryk te stig, onder meer in Afrika en die Suidsee.
Die Eerste Wêreldoorlog breek in 1914 as gevolg van die onrus in die Balkan en die ingewikkelde alliansies tussen die groot mondhede uit. Die Duitse planne, om eers Frankryk en daarna Rusland neer te werp, misluk. Duitse troepe word in 'n langdurige oorlog aan twee fronte verwikkel. Die Duitse nederlaag maak in 1918 ook 'n einde aan die monargiese stelsel wat deur 'n republikeinse staatsvorm vervang word.
Republiek van Weimar (1918–1933)
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Republiek van Weimar.


Volgens die Vredesverdrag van Versailles, waarin die Duitsers alle skuld vir die Groot Oorlog moes aanvaar, was die Duitse Ryk verplig om oorlogsreparasies aan die geallieerde moondhede te betaal – 'n klousule wat deur baie as 'n vernedering ervaar is en 'n swaar las op die na-oorlogse ekonomie geplaas het. Toe die Duitse Ryk sy skuld wanbetaal het, het Frankryk en België nie geskroom om dele van die land se vernaamste nywerheidsgebiede, veral die Ruhrgebied met sy steenkool-mynboubedryf en swaar nywerhede, te beset nie om betaling af te dwing.
Uit ekonomiese nood – naas reparasies moes ook salarisse en lone in die openbare sektor betaal word – het die Duitse regering hom na die drukpers gewend om op groot skaal nuwe geld te skep. Die gevolg was 'n hiperinflasie wat ongekende afmetings aangeneem het. Toe in November 1923 'n nuwe geldeenheid, die Rentenmark, ingevoer is om die ou "Papiermark" te vervang, was die wisselkoers 1:1 biljoen.
Die politieke situasie het eers ná jare se onluste en die invoering van die Rentenmark begin stabiliseer. Die kulturele lewe het 'n bloeitydperk tydens die sogenaamde "Goue twintigerjare" beleef, 'n periode van relatiewe politieke en ekonomiese stabiliteit wat in 1923 begin het en tot 'n groot mate deur buitelandse, veral Amerikaanse, lenings gefinansieer is. Ekonomiese en politieke toestande het met die Groot Depressie in 1929 weer dramaties begin versleg nadat Amerikaanse beleggers kredietlyne opgeskort en groot bedrae kapitaal aan die land onttrek het.
Radikale groeperings soos die Moskou-gesinde Kommunistiese Party van Duitsland (KPD) en die fascistiese Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) het die demokratiese stelsel van die republiek ernstig begin ondermyn. Die deflasionêre ekonomiese beleid van die kanselier Brüning het die ekonomiese krisis vererger en die werkloosheidsyfer in Januarie 1932 tot meer as ses miljoen laat styg.
"Derde Ryk" (1933–1945)
[wysig | wysig bron]