Malawi
| |||||
| Nasionale leuse: Unity and Freedom[1] (Engels vir: "Eenheid en Vryheid") | |||||
| Volkslied: Mulungu dalitsa Malaŵi[2] (Chichewa vir: "O God seën ons land Malawi") | |||||
| Hoofstad | Lilongwe | ||||
| Grootste stad | Lilongwe | ||||
| Amptelike tale | Engels[3] • Chichewa (omgangstaal)[4] | ||||
| Regering | Unitêre presidensiële grondwetlike republiek Peter Mutharika Jane Ansah | ||||
| Onafhanklikheid | 6 Julie 1964 6 Julie 1966 18 Mei 1994 | ||||
| Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
118 484[5] km2 (100ste) 45 747 myl2 20,6 | ||||
| Bevolking - 2024-skatting - 2018-sensus - Digtheid |
21 763 309[5] (62ste) 17 563 749[6] 183,7 / km2 (56ste) 475,7 / myl2 | ||||
| BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2025-skatting | ||||
| BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2025-skatting | ||||
| MOI (2023) | |||||
| Gini (2019) | 38,5[9] – medium | ||||
| Geldeenheid | Kwacha (D) (MWK) | ||||
| Tydsone - Somertyd |
SAT (UTC+2) nie toegepas nie (UTC+2) | ||||
| Internet-TLD | .mw | ||||
| Skakelkode | +265 | ||||
Malawi (Engels: [məˈlɔːwi], [məˈlɑːwi] of [ˈmæləwi]; Chichewa: Malaŵi, [maláβi] of [maláwi][10]), amptelik die Republiek Malawi (Engels: Republic of Malawi; Chitumbuka: Charu cha Malaŵi; Chichewa: Dziko la Malaŵi), voorheen bekend as Njassaland, is ’n republiek in Suidoos-Afrika wat heeltemal deur land omring word. Teen 118 484 km² is dit een van die kleinste lande in Afrika, maar dit het ’n verskeidenheid landskappe en ’n wildlewe wat sy belangrikheid as toeristebestemming verhoog. Sowat ’n vyfde van sy oppervlakte word deur die Malawimeer beslaan; dit is die derde grootste meer in Afrika en die tiende grootste ter wêreld.


Malawi grens aan Zambië in die noordweste, Tanzanië in die noordooste en Mosambiek in die suide, suidooste en suidweste. Dit het ’n geraamde bevolking van 18 091 575 (2016). Sy hoofstad is Lilongwe, wat ook die grootste stad is, en die tweede grootste is Blantyre. Die naam kom uit die Maravi-taal. Die land is ook algemeen bekend as die "Warm Hart van Afrika".[11]
Migrerende Bantoevolke het die gebied omstreeks die 10de eeu betrek. In die laat 15de eeu is die Maravi-ryk gestig. Die Maravi's het later bekend gestaan as die Chewa – ’n etniese groep wat vandag steeds die meerderheidsbevolking in die land is.
In die 19de eeu het Skotse sendelinge, onder wie David Livingstone, in Malawi aangekom. Hulle was die eerste Europeërs wat die lang en moeilike tog deur die vasteland van Afrika in 1859 voltooi het. In 1891 het Brittanje die gebied gekoloniseer en in 1953 het Njassaland, ’n Britse protektoraat, ’n protektoraat binne die semi-onafhanklike Federasie van Rhodesië en Njassaland geword. Die federasie is in 1963 ontbind en in 1964 is die protektoraat oor Njassaland opgehef. Die land het onder koningin Elizabeth II onafhanklik geword en die naam is na Malawi verander. Twee jaar later het dit ’n republiek geword.
Ná Malawi se onafhanklikwording het dit ’n eenpartystaat geword met Hastings Banda as president. Hy was die lewenslange staatshoof tot in 1994, toe sy lewenslange presidentskap beëindig is nadat hy die land se eerste demokratiese verkiesing verloor het. Peter Mutharika is die huidige president en Malawi is nou ’n demokratiese veelpartystaat. Dit het ’n klein militêre weermag met ’n leër, vloot en lugmagvleuel. Die buitelandse beleid is pro-Westers en sluit positiewe diplomatieke betrekkinge met die meeste lande in, asook deelname aan verskeie internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, Britse Statebond en Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap.
Malawi is een van die wêreld se swaksontwikkelde lande. Die ekonomie is afhanklik van landbou en daar is ’n groot plattelandse bevolking. Die regering leun swaar op buitelandse hulp vir ontwikkeling, hoewel dié behoefte (en die hulpaanbiedinge) sedert 2000 afneem. Sedert 2005 skenk die land aandag aan die uitbreiding van die ekonomie, die verbetering van opvoeding en gesondheidsdienste, omgewingsbewaring en om finansieel onafhanklik te word.
Die lewensverwagting in die land is laag en die babasterftesyfer hoog. MIV/vigs kom algemeen voor en dit stel groot eise aan die werkmag en die regering se uitgawes. Hoewel streekskonflik voorheen van tyd tot tyd voorgekom het, is daar sedert omstreeks 2008 ’n groeiende gevoel van ’n Malawi-nasionaliteit.
Etimologie
[wysig | wysig bron]Die eerste naam wat aan die huidige Malawi gegee is, was Njassaland, 'n samestelling van die Lomwe-woord nyasa vir "meer" en die Engelse woord "land". Die saamgestelde naam is bedink deur David Livingstone, 'n Skotse ontdekkingsreisiger en sendeling wat in die middel 1880's die bekende Zambezi-ekspedisie deur die gebied aangevoer het.[12] Die huidige naam Malawi, wat "vlamme" in beide Chichewa en Chitumbuka beteken en moontlik verband hou met Maravi, is gekies deur die eerste president van Malawi, Kamuzu Banda, ná die land se onafhanklikwording van die Verenigde Koninkryk in 1964.[13][14]
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]
Die gebied in Afrika wat nou as Malawi bekend is, het ’n klein bevolking van jagters gehad voordat Bantoevolke omstreeks die 10de eeu uit die noorde daarheen getrek het. Sommige het suidwaarts aanbeweeg, maar ander het permanent gebly en groepe gestig wat op etnisiteit geskoei was.[15] Teen 1500 n.C. is die Koninkryk Maravi gestig wat gestrek het van wat nou Nkhotakota in die noorde is tot by die Zambezirivier, en van die Malawimeer tot by die Luangwarivier in die huidige Zambië.[16]
Kort ná 1600, toe feitlik die hele gebied onder een heerser verenig was, het plaaslike stamme Portugese handelaars en militêre teengekom en met hulle begin handel dryf en bondgenootskappe sluit. Teen 1700 het die gebied verbrokkel in klein streke wat deur individuele etniese groepe beheer is.[17]
Die sendeling en ontdekkingsreisiger David Livingstone het die Malawimeer in 1859 bereik en die Shirehoogland suid daarvan geïdentifiseer as geskik vir die vestiging van Europeërs. Verskeie Anglikaanse en Presbiteriaanse sendelingsposte is in die 1860's en 1870's begin, die African Lakes Company Limited is in 1878 gestig om ’n handels- en vervoerpos daar te stel wat nou met die sendelinge moes saamwerk, en ’n klein sending- en handelsnedersetting is in 1876 naby die huidige Blantyre gestig. In 1883 het ’n Britse konsul in die gebied kom woon. Die Portugese regering was ook in die streek geïnteresseer en om te voorkom dat dié land dit beset, is Harry Johnston as Britse konsul daarheen gestuur met die opdrag om bondgenootskappe met plaaslike heersers buite Portugese jurisdiksie te sluit.[18]

In 1889 is ’n Britse protektoraat oor die Shirehoogland verklaar – en dit is in 1891 uitgebrei om die hele moderne Malawi in te sluit – as die Britse Sentraal-Afrikaanse Protektoraat.[19] In 1907 is die protektoraat hernoem tot Njassaland.[20]
In 1944 is die Nyasaland African Congress (NAC) deur inwoners gestig om plaaslike belange onder die aandag van die Britse regering te bring.[21] In 1953 het Brittanje Njassaland om hoofsaaklik politieke redes[22] met Noord- en Suid-Rhodesië verenig onder die naam Federasie van Rhodesië en Njassaland, ook bekend as die Sentraal-Afrikaanse Federasie (SAF).[20] Hoewel die federasie semi-onafhanklik was, het dit teenstand van Afrika-nasionaliste ontlok en die NAC se gewildheid het toegeneem. ’n Invloedryke teenstander van die SAF was dr. Hastings Banda, ’n dokter wat in Europa opgelei is en in Ghana gewerk het. Hy is oorreed om in 1958 na Njassaland terug te keer en te help in die nasionalistiese saak. Hy is as president van die NAC gekies en het nasionalistiese sentiment help bevorder totdat die koloniale owerhede hom in 1959 tronk toe gestuur het. Hy is in 1960 vrygelaat en gevra om ’n nuwe grondwet vir Njassaland te help opstel met ’n klousule wat aan Afrikane die meerderheid in die kolonie se wetgewende raad gee.[15]

In 1961 het Banda se Malawi Congress Party (MCP) ’n meerderheid in die verkiesing vir die wetgewende raad behaal en hy het in 1963 premier geword. Die federasie is in 1963 ontbind en op 6 Julie 1964 het Njassaland as Malawi onafhanklik geword. Die land het ’n republiek geword met Banda as eerste president. Volgens die nuwe grondwet was dit ’n eenpartystaat, met die MCP as enigste wettige party. In 1971 is Banda tot lewenslange president verklaar. Hy het byna 30 jaar lank deur middel van ’n uiters outoritêre bewind regeer. Dit het gewapende opstand voorkom,[23] maar opposisiepartye soos die Malawi-vryheidsbeweging en Sosialistiese Bond van Malawi is buite die land gestig.
Ondanks dié ongunstige politieke toestande is Malawi se ekonomie dikwels gebruik as voorbeeld van hoe ’n arm, landomringde, digbevolkte land met min minerale sukses in beide landbou en nywerheidsontwikkeling kan behaal.[24] Terwyl hy president was, het Banda sy beheer oor die land gebruik om ’n sakeryk op te bou wat eindelik ’n derde van die land se BBP geproduseer het en werk verskaf het aan 10% van die werkmag wat ’n loon verdien.[25] Al die geld wat Banda gemaak het, is in die ontwikkeling van Malawi gestort en is gesimboliseer deur die bou van ’n topskool, die Kamuzu-akademie.
Onder druk vir meer politieke vryheid het Banda ingestem tot ’n demokratiese referendum in 1993, waar die bevolking vir ’n veelpartydemokrasie gestem het. Laat in 1993 is ’n presidensiële raad gestig, sy lewenslange presidentskap is afgeskaf en ’n nuwe grondwet is opgestel wat die MCP se bewind prakties beëindig het.[23] In 1994 is Banda in die land se eerste demokratiese verkiesing deur Bakili Muluzi verslaan. Muluzi is in 1998 herkies en was tot in 2004 president, toe dr. Bingu wa Mutharika verkies is.
Mutharika is in Mei 2009 herkies, ondanks aantygings van verkiesingsbedrog deur sy teenstander.[26] Hy is deur sommige beskou as toenemend outokraties en minagtend teenoor menseregte,[27] en in Julie 2011 het onrus uitgebreek oor onder meer die hoë lewenskoste en swak regering.[28] Agttien mense is dood en nog minstens 44 het skietwonde gehad.[29] In April 2012 is Mutharika aan ’n hartaanval dood en die visepresident, Joyce Banda, het die amp daarna beklee.[30]
In 2014 het Joyce Banda die verkiesing verloor teen Peter Mutharika, broer van die derde verkose president.[31]
Regering en politiek
[wysig | wysig bron]

Malawi is ’n demokratiese veelpartystaat met Peter Mutharika as president. Hy het die vorige president, Lazarus Chakwera, in 2025 verslaan.[32] Die huidige grondwet is op 18 Mei 1995 aanvaar. Die takke van die regering bestaan uit die uitvoerende, wetgewende en geregtelike gesag. Die president is beide staats- en regeringshoof; daar is ook twee visepresidente en ’n kabinet. Die president word elke vyf jaar verkies en hy kies die visepresident. Hy mag ’n tweede visepresident aanstel as hy wil, maar hulle moet van verskillende politieke partye wees. Hy stel ook die kabinet saam.[16]
Die wetgewende gesag bestaan uit ’n eenkamer-volksvergadering met 193 lede wat elke vyf jaar verkies word. Hoewel die grondwet voorsiening maak vir ’n senaat met 80 setels, bestaan daar nie in die praktyk een nie. As dit geskep word, sal die senaat verteenwoordiging verskaf aan tradisionele leiers en ’n verskeidenheid geografiese distrikte, asook belangegroepe soos gestremdes, vroue en die jeug. Daar is tans nege politieke partye; die Demokraties-Progressiewe Party (DPP) is die regerende party en die hoofopposisie in die volksvergadering is die Malawi-kongresparty (MKP) en die Verenigde Demokratiese Front (VDF). Mense van 18 jaar en ouer mag stem.[16]
Die onafhanklike geregtelike gesag is geskoei op die Britse model en bestaan uit ’n appèlhof, ’n hooggeregshof met drie afdelings (algemeen, grondwetlik en kommersieel), ’n nywerheidshof en magistraatshowe.[33] Die regstelsel is sedert Malawi se onafhanklikwording in 1964 verskeie kere verander. Konvensionele en tradisionele howe is in verskeie kombinasies gebruik, met wisselende grade van sukses en korrupsie.[34]
Malawi bestaan uit drie streke: die Noordelike, Sentrale en Suidelike Streek.[35] Hulle word onderverdeel in 28 distrikte[5] en verder in sowat 250 tradisionele owerhede en 110 administratiewe wyke.[35] Plaaslike owerhede se streeksadministrateurs en distrikskommissarisse word deur die sentrale regering aangestel. Die eerste plaaslike verkiesings sedert die staat ’n veelpartystelsel het, is op 21 November 2000 gehou; die VDF het 70% van die setels gewen.[16]
In Februarie 2005 het die destydse president Bingu wa Mutharika weggebreek van die VDF en sy eie party, die DPP, gestig. Dit het amptenare wat vir hervorming was, van ander partye weggelok en in 2006 verkiesings regdeur die land gewen. In 2008 het die president hervormings ingestel om die land se groot korrupsieprobleem hok te slaan – minstens vyf senior VDF-lede is van misdaad aangekla.[36]
Malawi se mees onlangse verkiesing is in September 2025 gehou toe Peter Mutharika president Lazarus Chakwera verslaan het.[32]
Administratiewe afdelings
[wysig | wysig bron]
Malawi word in drie streke met 28 distrikte verdeel:
|
Sentrale Streek
|
Noordelike Streek
|
Suidelike Streek
|
Buitelandse betrekkinge
[wysig | wysig bron]
Die voormalige president Hastings Banda het reeds ’n pro-Westerse buitelandse beleid begin. Dit het diplomatieke betrekkinge met baie Westerse lande ingesluit. Die oorgang van ’n een- tot ’n veelpartystelsel het gelei tot sterker bannde met Amerika. Aansienlike getalle studente van Malawi het opleiding in Amerika ondergaan en verskeie Amerikaanse staatsliggame het takke in Malawi. Malawi het ook regdeur die apartheidsjare goeie betrekkinge met Suid-Afrika gehad, wat stremming geplaas het op Malawi se bande met ander Afrika-lande. Ná die afskaffing van apartheid in 1994 het betrekkinge met Suid-Afrika voortgeduur en bande met ander Afrika-lande verbeter. In 2010 het Malawi se betrekkinge met Mosambiek agter versuur, veral weens meningsverskille oor die gebruik van die Zambezirivier en ’n gemeenskaplike elektriese netwerk.[16]
Malawi het in 2007 diplomatieke bande met China aangeknoop en Chinese beleggings in die land het sedertdien bly toeneem, ondanks kommer oor die behandeling wat werkers van Chinese maatskappye ontvang, en die mededinging tussen Chinese en plaaslike besighede.[37] In 2011 het betrekkinge met Brittanje verswak nadat ’n dokument uitgelek het waarin die Britse ambassadeur in Malawi president Mutharika kritiseer. Mutharika het die ambassadeur uit die land gesit en in Julie 2011 het Brittanje aangekondig dat hy alle begrotingshulp opskort omdat Mutharika nie gereageer het op kritiek op sy regering en ekonomiese wanbestuur nie.[38] Op 26 Julie van dié jaar het Amerika dieselfde gedoen weens kommer oor die regering se onderdrukking en intimidasie van betogers en burgergroepe, sowel as beperkings op die pers en verhoogde polisiegeweld.[39]
Malawi word sedert 1985 as ’n toevlugsoord vir vlugtelinge uit ander Afrika-lande beskou, veral Mosambiek en Rwanda. Dit plaas ’n stremming op Malawi se ekonomie, maar het ook aanbiedings van hulp uit ander lande tot gevolg gehad. Skenkers sluit in Amerika, Kanada, Duitsland, Ysland, Japan, Nederland, Noorweë, Swede, Ierland, Brittanje en Vlaandere in België, sowel as internasionale organisasies soos die Wêreldbank, Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Europese Unie (EU), Afrika Ontwikkelingsbank en organisasies van die Verenigde Nasies (VN).
Malawi is lid van verskeie internasionale organisasies, onder meer die Britse Statebond, VN, Internasionale Monetêre Fonds, Wêreldbank, Afrika-unie en Wêreldgesondheidsorganisasie. Die land beskou ekonomiese en politieke standvastigheid in Suider-Afrika as noodsaaklik en staan vreedsame oplossings deur samesprekings voor.
Menseregte
[wysig | wysig bron]
In die 2010's het internasionale waghonde menseregtekwessies op verskeie terreine waargeneem. Oormatige geweld deur die polisiemag word soms waargeneem, veiligheidsmagte se dade bly soms ongestraf, skaregeweld is gesien, en tronktoestande is steeds benard en soms selfs lewensgevaarlik. Die regering wend egter ’n poging aan om lede van die veiligheidsmagte te vervolg as oormatige geweld gebruik is.
Ander regskwessies sluit in beperkings op vryheid van spraak en ’n vrye pers, lang aanhoudings voor hofsake en lukrake inhegtenisnemings en aanhoudings. Gemeenskapskwessies wat kommer wek, is geweld teen vroue, mensehandel en kinderarbeid. Korrupsie in die regering word beskou as ’n groot probleem, ondanks die Malawi Anti-Corruption Bureau (ACB) se pogings om dit te verminder. Volgens berigte is die ACB suksesvol in opsporings en vervolgings wat laevlakkorrupsie betref, maar dit lyk of hoërvlakamptenaar se dade ongestraf bly. Korrupsie in die veiligheidsmagte is ook ’n kwessie.[40] Malawi het ook ’n groot voorkoms van kinderhuwelike.[41] In 2015 het die land die wettige ouderdom om te trou van 15 tot 18 verhoog.[42] Ander kwessies wat geopper is, is die gebrek aan voldoende regsbeskerming vir vroue teen seksuele mishandeling en teistering, ’n hoë moedersterfesyfer en mishandeling wat verband hou met aantygings van heksery.[43][44]
Homoseksualiteit is onwettig en in een geval in 2010 is twee mans wat van homoseksualiteit aangekla is, skuldig bevind en ’n lang tronkstraf opgelê:[45] die maksimum straf van 14 jaar dwangarbeid. Hulle is twee weke later begenadig nadat die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, Ban Ki-moon, tussenbeide getree het.[46] Daar was intussen beloftes dat wette wat van homoseksualiteit ’n misdaad maak, herroep sou word,[47] maar in Mei 2016 was die regering nog besig om die wette te hersien.[48]
Geografie
[wysig | wysig bron]

Malawi is in Suidoos-Afrika. Dit word heeltemal deur land ingesluit en lê in die trope; van omtrent 9°30S in die noorde tot omtrent 17°S in die suide. Dit beslaan ’n dun strook tussen Zambië en