Gaan na inhoud

Binance

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Binance
Tipe Privaat
Gestig Julie 2017
Hoofkantoor Onbekend
SleutelpersoneChangpeng Zhao
Yi He
Gebied bedienWêreldwyd
IndustrieKriptogeld
ProdukteGeldeenhede
Nieverwisselbare items
Werknemers5 000 (2025)
Webwerfbinance.com

Binance is ’n wêreldwye kriptogeld-beurs wat in 2017 deur Changpeng Zhao en Yi He gestig is. Dit het vinnig gegroei om een van die grootste en mees invloedryke platforms vir digitale bates in die wêreld te word. Binance bied ’n wye reeks dienste aan, insluitend die handel in kriptogeldeenhede, staking, uitleen, derivaatinstrumente, en verskeie beleggingsprodukte.

Die platform ondersteun honderde verskillende kriptogeldeenhede, waaronder Bitcoin (BTC), Ether (ETH) en Binance Coin (BNB), waarvan laasgenoemde die inheemse geldeenheid van die Binance-ekosisteem is. BNB word vir transaksiefooie, deelname aan promosies, en as deel van die Binance Smart Chain-ontwikkelingsnetwerk gebruik.

Binance ondersteun verskillende tipes opdragte soos limiet- en markopdragte en ander instrumente soos termynkontrakte.

Hoewel Binance internasionale sukses behaal het, is dit ook gekritiseer en onder regulatoriese toesig in verskeie lande geplaas. Sommige regerings het kommer oor die platform se nakoming van teengeldwassery- en kliëntekennisreëls uitgespreek. Binance het daarop gereageer deur lisensies in verskeie jurisdiksies te bekom.

Binance het ook sy eie blokkettinginfrastruktuur, naamlik die Binance Smart Chain (BSC), wat ontwerp is om gedesentraliseerde toepassings en slim kontrakte te ondersteun. BSC bied ontwikkelaars ’n alternatiewe platform in die gedesentraliseerde finansiële (DeFi) sektor.

Kuberkraak-voorval van 2026

[wysig | wysig bron]

Op 29 Oktober 2026 het Binance 'n groot sekuriteitsinbreuk ondervind waarby kriptogeldeenhede ter waarde van 'n geraamde $6,3 miljard betrokke was, wat dit die grootste aangetekende diefstal van kriptogeldeenheide gemaak het.[1]

Binance het deposito's en onttrekkings tydelik opgeskort terwyl die voorval ondersoek en met wetstoepassingsowerhede en uitreikers van kriptogeldeenhede saamgewerk is.[2][3][4] Die beurs het berig dat bates ter waarde van ongeveer $3 miljard wat deur die voorval geraak is, met die hulp van bedryfsvennote gevries is. Die uitreikers van die stabielmunte Tether en USDC het onderskeidelik ongeveer $1,57 miljard en meer as $800 miljoen gevries. Ripple het ook ongeveer $200 miljoen se verwante bates gevries.[1]

Volgens die blokkettingintelligensiemaatskappy TRM Labs was die inbraak aan Noord-Koreaanse kuberkrakers gekoppel.[5][6] Die inbraak is spesifiek toegeskryf aan TraderTraitor, wat blykbaar deel van die Lazarus-groep is.[7]

Dit is die grootste diefstal van kriptogeldeenhede ooit,[8] wat die Bybit-inbraak van 2025, waartydens $1,5 miljard gesteel is, oortref. Volgens die hoofwetenskaplike van Elliptic, 'n konsultasiefirma wat op kriptogeldeenheidmisdaad spesialiseer, is die inbraak "feitlik seker die grootste bekende diefstal van enige aard".[9]

Binance se mede-uitvoerende hoof, Yi He, het gesê dat die beurs gebruikers sou vergoed vir verliese wat uit die aanval voortgespruit het. Die maatskappy het verklaar dat hy sy eie finansiële reserwes en sy Bitcoin-gesteunde Secure Asset Fund for Users (SAFU), 'n noodfonds vir gebruikersbeskerming ter waarde van ongeveer VS$1 miljard, sou gebruik om die verliese te dek.[10]

Bronne

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. 1 2 Banerjee, Ankur; Westbrook, Tom; Zhen, Summer (29 Oktober 2026). "Binance freezes assets after $6.3 billion heist, crypto industry's biggest". Reuters.
  2. ↑ Kessler, Sam; Huang, Vicky Ge (29 Oktober 2026). "Binance Suspends Transactions as It Probes What May Be Biggest-Ever Cyber Heist" – via www.wsj.com.
  3. ↑ Huamani, Kaitlyn (29 Oktober 2026). "Binance flags 'potential security issue,' says approximately $6.3 billion impacted". Associated Press.
  4. ↑ Whittaker, Zack (29 Oktober 2026). "Binance pauses withdrawals as hackers suspected of stealing billions in crypto". TechCrunch.
  5. ↑ "Cryptocurrency exchange Binance suspends trading after suspected hack linked to North Korea". Deutsche Welle (in Engels). Besoek op 30 Oktober 2026.
  6. ↑ Milmo, Dan; Makortoff, Kalyeena (30 Oktober 2026). "North Korea is likely culprit behind $6.3bn crypto hack, 'largest heist in history'". The Guardian (in Britse Engels). ISSN 0261-3077. Besoek op 31 Oktober 2026.
  7. ↑ "Binance hit by major hack as billions in crypto funds are frozen". euronews. Besoek op 31 Oktober 2026.
  8. ↑ Sephton, Connor (30 Oktober 2026). "Crypto industry suffers 'largest bank heist in human history' as billions stolen in Binance hack". Sky News. Besoek op 30 Oktober 2026.
  9. ↑ Milmo, Dan; Makortoff, Kalyeena (30 Oktober 2026). "How big a deal is the $6.3bn Binance crypto heist, who did it, and are investments safe?". The Guardian. Besoek op 31 Oktober 2026.
  10. ↑ Waldvogel, Miriam (29 Oktober 2026). "Binance freezes billions in cryptocurrency after massive hack". The Washington Post.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]